Nie net ‘n huis, maar ook ‘n tuiste
Polokwane Kinder- en Gesinsorg het besluit om gedurende die week van 29 Junie tot 3 Julie 'n ouerleidingskursus by hul kantore aangebied.
POLOKWANE – Polokwane Kinder- en Gesinsorg het besluit om gedurende die week van 29 Junie tot 3 Julie ‘n ouerleidingskursus by hul kantore aangebied. Tydens die week het die maatskaplike werkers met ma’s gesels oor wat ‘n gesin is en die verskillende tipes gesinne wat ‘n mens kry en hul funksies.
“Ons het hulle vertel hoe ‘n goeie mamma en vrou lyk en raad gegee oor hoe om klaar te kom met min geld. Later het ons ook vir hulle riglyne gegee oor die hantering van probleme en kommunikasie. Vrydag het ons hulle vertel hoe word ‘n huis ‘n tuiste,” vertel Lorette Bosch, maatskaplike werker by Polokwane Kinder- en Gesinsorg.
Terwyl die maatskaplike werkers met die vroue besig was, het gr. 10-leerders van Hoërskool Pietersburg die kinders besig gehou, die leerders het dit deel gemaak van hul Ubuntu-projek. Daar is kreatiewe items gemaak wat huistoe geneem is en die kinders het ook kaartjies vir hul ouers gemaak waarin hulle vertel hoe lief hulle hul ouers het.
“Ons het skapies met wol gemaak, met hulle gespeel en piekniek met pizza gehou,” vertel Maryke Venter. “Ons het ook kolwyntjies gebak, en blikkies geverf en versier met herwinbare produkte. Vir die blikkies het ons blommetjies gemaak uit eierhouers.”
Die leerders vertel dat hulle baie geleer het. “Dit het my meer dankbaar gemaak vir wat ek het. Ek het gesien elke kind wil net pret hê,” vertel Maryke.
“Ons het almal se probleme leer ken en geleer om almal te aanvaar. ‘n Mens moet nie dink jy is beter as ander mense nie,” voeg Tahlita Jonker by.





