DA-raadslede reik uit na Herfsland
DIE welstand van die inwoners van Mokopane is 'n groot prioriteit vir Risk-Med en die DA se Marcelle Maritz, raadslid van wyk 32 en Korny Dekker, raadslid van wyk 31.
MOKOPANE – DIE welstand van die inwoners van Mokopane is ‘n groot prioriteit vir Risk-Med en die DA se Marcelle Maritz, raadslid van wyk 32 en Korny Dekker, raadslid van wyk 31. Die inwoners van Herfsland het Dinsdagmiddag hul moue opgerol toe die lede van Risk-Med hul bloeddruk kom meet het waarna Maritz en Dekker hulle bederf het met ‘n stomende koppie groentesop.
Johan Lange, eienaar van Risk-Med, vertel aan Bosveld dat Risk-Med in samewerking met Maritz ‘n gemeenskapsprojek stig en dat hierdie een van vele uitreike na die gemeenskap is.
“Ons sien dat daar ‘n groot behoefte in die gemeenskap is vir bekostigbare mediese dienste en daarom nooi ons almal uit om lede te word van Risk-Med.”
Vir verdere inligting kontak Risk-Med by 072 668 5465. Maritz bedank die anonieme skenker vir die heerlike groentesop wat die inwoners terdee geniet het. Die inwoners van Herfsland het breed geglimlag en die lede van Risk-Med bedank vir die neem van hul bloeddruk en vir Maritz en Dekker vir die warm groentesop op ‘n koue wintersmiddag.







