Geloof is Jurie se dryfkrag
'n Snoesige bed, warm water om mee te was en heerlike borde kos is slegs 'n paar dinge wat Jurie Pieterse opgee vir sy beweegrede om te stap vir geloof.
POLOKWANE – ‘n Snoesige bed, warm water om mee te was en heerlike borde kos is slegs ‘n paar dinge wat Jurie Pieterse opgee vir sy beweegrede om te stap vir geloof. Jurie (49) se verhaal het reeds ses jaar gelede begin toe sy vrou en tweeling-dogters in ‘n motorongeluk oorlede is.
“Ek was kwaad vir die Here en het baie met Hom baklei. In Desember 2012 is ek geskiet en in Januarie 2013 het ek ‘n ligte beroerte gehad. Ek het begin wonder of dit nie die Here is wat met mý gesels nie. In Julie 2013 is ek met breinkanker diagnoseer.”
Jurie vertel dat hy besluit het om geen behandeling te ontvang nie. Die dokters het vir hom gesê dat daar ‘n 85% kans is dat ‘n operasie hom sal red, maar dat hy dan geen breinfunksie sal hê nie. Hy het besluit om selfmoord te pleeg en hy het vir twee en ‘n half ure met die pistool in sy mond gesit voor hy besef het dat dit nie ‘n uitweg is nie.
“Ek het my huis in Franschhoek afgeteken, my besigheid verkoop en in September die pad gevat met net ‘n rugsak en R150 in my sak. Ek het net begin loop Nelspruit toe. Ek het in ‘n tent geslaap en langs die pad visse, volstruise en selfs slange gevang om te eet. Ek stap nie vir geld nie, en indien mense vir my geld wil gee is hulle welkom, maar ek soek nie ‘n borg nie. God borg my, Hy sorg vir my.”
Hy vertel dat mense hom soms slaapplek gee of betaal dat hy in ‘n hotel vir staptoeriste kan slaap. Hier het hy darem warm water vir was en ‘n sagte matras om op te slaap vir die aand. Hy was sy klere by wasserye of by die mense waar hy oornag.
“Die dokters het gesê dat ek net twee jaar oor het om te leef, dit is nou twee jaar later en hier sit ek nog. Ek het nog nie weer gegaan vir toetse nie, ek het besluit om oor vyf jaar weer te gaan. Ek kry nog hoofpyn en sukkel soms met my visie. Met my eerste staptog het my been ingegee by Emalahleni. Ek is met ‘n ambulans na die hospitaal geneem en hulle het vog van my ruggraat afgetrek,” vertel Jurie.
Jurie stap deesdae nie meer sonder ‘n spesifieke roete nie, maar na dorpe en stede waar hy genooi word om sy lewensverhaal van hoop en geloof te vertel. Hy vertel dat hy al wou moed opgee, homself voor ‘n vragmotor ingooi, maar dat die Here elke keer op ‘n wonderbaarlike wyse ingetree het. Sy selfoon sal lui met iemand wat vra dat hy hulle moet besoek. Hy kry ook gereeld boodskappe wat hom moed gee, soos die gesin wat skryf dat hulle geloof verloor het, maar dat hy hulle weer hul geloof laat vind het. By party plekke word hy verwelkom, by ander spoeg hulle op hom en skel hom uit. Hy vertel dat verskeie koerante al oor hom berig het en dat hy selfs al op radiostasies gepraat het oor sy reis.
“Ek is nie bang nie, God hou my veilig. Ek tart ook nie die duiwel nie. Ek beweeg nie na sononder binne 10km van ‘n dorp as ek nie slaapplek daar het nie. Ek is nie bang vir enige iets nie.”
Jurie het ‘n Facebook-blad waar hy gereeld vertel waar hy is en wat hy doen.




