Local Elections news

Mulder in Polokwane: Suid-Afrika nie onregeerbaar nie

Suid-Afrika het die mense, minerale en hulpbronne om ekonomies te groei, maar dit verg sterk leiding en inisiatief, het dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, gesê.

POLOKWANE – Suid-Afrika staan aan die begin van ’n proses wat politieke verandering kan meebring, het dr. Corné Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus), Saterdag, 19 September, in Polokwane gesê.

Mulder het tydens die VF Plus se ‘Dit is Tyd’-toer die gemeenskap toegespreek. André Moss, die party se provinsiale leier, het hom aan die gehoor bekendgestel en gesê Mulder sluit die betrokke been van die toer in Polokwane af.

Ben Jordaan (kandidaat), André Moss (provinsiale VF Plus leier), dr. Corné Mulder (nasionale VF Plus leier) en Susan Clarke (raadslid).

Volgens Mulder het hy tydens die toer ’n verandering in mense se politieke gesindheid waargeneem.

“’n Leier kan nie mense verteenwoordig as hy nie weet hoe hulle voel en wat hulle dink nie. Ek dink die plaaslike verkiesing gaan ’n belangrike verkiesing wees. Die algemene gevoel wat ek tydens hierdie afgelope toer gekry het, is mense se gesindheid wat verander,” het hy gesê.

Die plaaslike verkiesing vind op 4 November plaas.

Mulder het verder gesê mense was 10 jaar gelede volgens hom meer geneig om stil te bly oor hul politieke oortuigings, maar dat dit nou verander.

“Mense is nie meer skaam om te sê dit is wat hulle glo en dit is waarvoor hulle staan nie. Hulle vra nie meer om verskoning nie,” het hy gesê.

Hoop vir die land

Tydens ’n vraag-en-antwoordsessie het ’n inwoner gevra of Suid-Afrika onregeerbaar is.

Mulder het gesê hy glo nie die land se probleme is onoorkombaar nie, maar dat sterk leiding en inisiatief nodig is om dit aan te spreek. “Ek dink nie dit is ’n onomkeerbare situasie nie. Ek dink dit kan reggemaak word. Daar is nie ’n rede waarom hierdie land nie die lokomotief van Afrika moet wees nie.”

Volgens hom beskik Suid-Afrika oor die mense, minerale en ander hulpbronne om ekonomies te groei, en kan besluitneming en duidelike leiding mense mobiliseer om saam oplossings te vind.

Hy het tydens die toer gesê hy het verskeie gemeenskappe en organisasies teëgekom waar mense besluit het om self probleme aan te pak.

“Ons het hierdie land opgebou. Ons het hom nie alleen as wit mense opgebou nie, dit was ’n kombinasie. Ons het planne gehad, ons het daai inisiatief gehad. Ander mense het gehelp met die arbeid en die werk daarvan, en saam het ons ’n reusagtige suksesvolle land gebou,” het hy gesê.

Mulder het kritiek uitgespreek oor wat hy as stadige besluitneming binne die ANC-regering beskryf, en gesê die ANC se benadering tot kollektiewe leierskap kan volgens hom tot besluiteloosheid lei.

“Dit is ’n verlammende manier van doen,” het hy gesê.

Volgens Mulder plaas die uitdagings waarvoor Suid-Afrika staan ook ’n verantwoordelikheid op inwoners om self betrokke te raak.

“As die goeie mense mekaar se hande vat, dan kan ons die land reg ruk en ek het geen twyfel dat ons dit gaan regkry nie,” het hy gesê.

Koalisies

Mulder het ook die toenemende belang van koalisies in plaaslike regering beklemtoon.

“Geen enkele party gaan na die verkiesing op sy eie ’n stad of stadsraad beheer of met ’n volstrekte meerderheid wen nie. Alles dui daarop dat ons waarskynlik reg oor Suid-Afrika koalisies gaan sien,” het hy gesê.

Waar die party vandaan kom

Mulder het ook die geskiedenis van die VF Plus toegelig en gesê die party is in Maart 1994 gestig, te midde van die politieke oorgang en konflik van daardie tyd. Die party se oorspronklike fokus was om die ideale van die Afrikanergemeenskap te verteenwoordig, met vryheid as ’n sentrale beginsel.

“Ons wil nie onder iemand staan nie, ons wil ons eie besluite kan neem. Vandag staan ons nie daarvan weg nie. Dit bly die kern van waar hierdie party vandaan kom,” het Mulder gesê.

Hy het egter gesê die party se missie is later aangepas om ook mense uit ander gemeenskappe te akkommodeer wat dieselfde waardes en ideale deel.

Mulder het benadruk dat mense volgens hom by ’n politieke party aansluit omdat hulle met die party se beginsels en waardes saamstem. “Niemand gaan weer alleen regeer nie. Stem vir ’n party wat jou waardes en beginsels weerspieël. Die enigste manier waarop jy jou stem kan mors, is om vir enige party te stem vir enige ander rede as dat jy saamstem met waarvoor hy staan,” het hy gesê.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button