KOLLIG: Spaarsukses, geduld is dikwels die wagwoord
In die vorige aflewering het ek verwys na wenke wat Warren Buffet uitgedeel het op sy seminaar wat in Mei hierdie jaar gehou was. Maar wat van beginners?

In die vorige aflewering het ek verwys na wenke wat Warren Buffet uitgedeel het op sy seminaar wat in Mei hierdie jaar gehou was. Maar wat van beginners?
Algemene riglyne vir beleggers wat in die begin staan van spaar pogings verskil ietwat van die wenke wat Buffet gegee het, aangesien laasgenoemde meer spesifiek na aandele verwys.
Beleggingsbesluitneming is vir onervare beleggers nie net uitdagend nie, maar selfs riskant. Daar is ‘n enorme verskeidenheid beleggings opsies wat gewoonlik gepaard gaan met ingewikkelde dokumente, bepalings en voorwaardes.
Ek wil graag hier ‘n paar riglyne uitstippel wat ek glo die beleggingsbesluite van ‘n beginner kan makliker maak:
• Bepaal jou beleggings doelwit. Maak dus seker waarvoor jy wil spaar en die spesifieke redes daarvoor.
• Maak seker van jou aptyt vir risiko. Jou ouderdom, batestruktuur, finansiële verpligtinge, lewens- doelwitte en persoonlike omstandighede asook jou beleggingsdoelwit sal bepaal watter risiko’s jy met jou geld kan neem.
• Kies ‘n gepaste beleggings opsie. Daar is ‘n wye spektrum van keuses, maar ook genoeg veilige beleggingsprodukte wat goed gereguleer word en deur gerespekteerde instansies geadministreer en bestuur word.
• Jy moet verstaan waarin jy belê. ‘n Belegger met ‘n goeie begrip van die belegging wat hy doen se kans is skraler om geld deur diefstal of bedrog te verloor. Hy sal ook ‘n realistiese verwagting hê oor opbrengs en wisselvalligheid.
• Die koste moet deursigtig wees en spesifiseer welke deel vir administrasie, bestuur, advies en/of aanvangsfooie gaan.
• Jy behoort jou belegging gereeld te monitor, sodat jy bewus is van medium tot langtermyn verwagtinge en nie emosionele of irrasionele besluite oor jou geld neem nie en terwyl dit ooreenkomstig die strategie wat jy gekies het groei nie.
• Jou geld behoort inflasie altyd op langtermyn te klop anders moet jy veranderinge aan die gekose strategie oorweeg.
• Jy moet geduldig wees. Saamgestelde rente, soos Einstein gesê het: “die grootste krag bekend aan die mensdom is, bring vrugte op langtermyn en moet ‘n mens wag om die beste vrugte te kan pluk.”
Vele ander wenke kan ook nog toegepas word, maar sal ek later weer verder daaroor uitbrei. Bogemelde riglyne is algemeen en behoort goeie inligting aan beginner beleggers te gee.
Tot volgende keer,
Groetnis,
Koos de Wet
* Koos de Wet is ‘n finansiële beplanner by PSG en lid van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika. Lesers kan hom kontak by 015 491 2020 / 082 881 4672 of psgk@mweb.co.za



