Uitstalling van klassieke motors lok aanhangers oud en jonk
DIE Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in samewerking met die Mokopane Besigheidskamer se klassieke motoruitstalling verlede Saterdag by die speurderskantore het byna 200 motorliefhebbers gelok.
MOKOPANE – DIE Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in samewerking met die Mokopane Besigheidskamer se klassieke motoruitstalling verlede Saterdag by die speurderskantore het byna 200 motorliefhebbers gelok.
“Hierdie klassieke 1935 Plymouth De Luxe Sedan is al vir meer as 80 jaar deel van die Donovan-familie en is een van die oudste motors by vandag se uitstalling,” vertel Danny Donovan, een van die motoruitstallers, trots terwyl hy Bosveld agter die stuur laat inskuif om dié klassieke ervaring eerstehands te beleef.
Andy Goetsche, voorsitter van die GPF, het self met drie veteraanmotors gespog waarvan ‘n bloedrooi Alva Romeo baie harte gesteel het.
Jonk en oud het in die opwinding van die dag ten bate van die bewusmaking van die GPF gedeel en daar was heerlik gesmul aan worsbroodjies, jaffels en oliebolle terwyl die vroue hul mans se arms gedraai het vir ‘n spog handgemaakte item, van krale tot skilderye.
Lede van die SAPD het ook ‘n stalletjie beman waar hulle die publiek ingelig het oor verskeie onderwerpe en hul vrae beantwoord het.
Die Mokopane Besigheidskamer en die GPF bedank die volgende borge: Modern Service station, Bower& Ass, Pick n Pay en Bosveld Elektries. “Sonder jul bydrae sou die dag nie ‘n sukses kon wees nie.”







