Boer te ruste gelê
'N JARELANGE inwoner en geliefde boer van Roedtan is op 5 Junie, na twee maande in Unitas Hospitaal in Centurion, oorlede.
MOKOPANE – ‘N JARELANGE inwoner en geliefde boer van Roedtan is op 5 Junie, na twee maande in Unitas Hospitaal in Centurion, oorlede.
Henry George van Schalkwyk (66) was bekend as ‘n dinamiese boer met streng normes en waardes. Van Schalkwyk was van gr. 1 tot gr. 12 op skool in Mokopane, waarna hy vir ‘n tydperk in Mookgophong geboer het. In 1975 verhuis hy en sy vrou Marinda na Roedtan waar hulle vir meer as 40 jaar ‘n suksesvolle saai- en beesboerdery bedryf het.
Hy was betrokke in die gemeenskap, en het omtrent sy lewe lank gedien op die N.G. kerk Mookgophong – en N.G. Kerk Roedtan se kerkraad. Hy was ook ‘n lid van die beheerliggaam van Laerskool Bysonderheid op Roedtan en ook Hoërskool Piet Potgieter.
Van Schalkwyk was lid van die boerevereniging in Roedtan en het ook hand bygesit by verskeie kultuurorganisasies.
Hy het naby aan God en sy grond gelewe, sy lewenswyse het gespreek van hoë waardes en integriteit.
Van Schalkwyk is op 12 Junie 2015 uit die N.G. Kerk Roedtan te ruste gelê.
Die familie bedank Unitas Hospitaal se personeel vir hul versorging en almal wat van heinde en verre gebel, gesms en ook besoek het. Hul bedank ook elke persoon wat sy begrafnis bygewoon het.
Liefde & Groete
Marinda (Vrou), Fonnie(Seun) & Anneri (dogter), Willie Broer) en 3 kleinseuns Alex, Alucio & Alfonso.



