Dameskring kweek ‘hartsgesinne’
BYNA 80 stylvolle vrouens van regoor die land het verlede Saterdag die Dameskring (DK) gebiedskonferensie by die Gereformeerde kerk bygewoon.
MOKOPANE – BYNA 80 stylvolle vrouens van regoor die land het verlede Saterdag die Dameskring (DK) gebiedskonferensie by die Gereformeerde kerk bygewoon.
Die Kameeldoring-dameskring het gesorg vir ‘n elegante dag gevul met inspirerende gassprekers, prag orrelmusiek, tuisgebakte lekkernye en heerlike stomende pampoen- en spinasiesop, gevolg met lekker gesels en die bederf van ‘n spog persentjie.
Die eerste DK is in 1967 in Nelspruit deur Marthella Pretorius gestig en vandag is daar meer as 178 aktiewe takke en oor die 2000 lede, waarvan die Kameeldoring-tak in Mokopane een is. ‘Geïnspireerde Afrikaanse Christenvroue maak as leiers ‘n verskil in hul gemeenskap en in die breër Suid-Afrika,’ lees die visie van die Dameskring.
Marda Oosthuysen is al 21 jaar as lid van die DK in Kuruman en vandag is sy ook die president van die Dameskring. Sy het met passie gepraat oor die jaartema naamlik, Kweek hartsgesinne! In haar boeiende toespraak vertel sy die woord kweekhuis staan vir k-koesteryd, w-waardes, e-erkenning, e-eensgesindheid, k-kommunikeer, h-hou jou kind se voete op die grond, u-uniekheid, i-identiteit en s-sekuriteit. “Ons as ma’s moet hartsgesinne kweek op die bogenoemde beginsels, ‘n ma is sinoniem met sorgsaamheid en liefde,”sê Oosthuysen.
Ina Lessing, bekend vir haar toekenning as Sanlam en Landbouweekblad se vroue-entrepreneur van die jaar vir haar bobaas konfyt, was die gasspreker van die dag. Sy vertel van haar reis tot haar suksesvolle besigheid en sê; “al die deure was toe, maar die hemel was oop en die nood het my leer bid, vir elke eelt en blaas op my vinger van konfytkook was daar ‘n eelt en ‘n blaas op my knieë van gebed.”
Sy sê tergend, “die gesegde lees aan die einde van ‘n reënboog is ‘n pot goud, my kinders glo vas daar is ‘n pot konfyt.” Haar raad vir die kweek van ‘n hartsgesin; eet soveel as moontlik saam aan ‘n tafel, praat en luister na mekaar. Leer jou kinders om te blom waar God jou geplant het. Belê in liefde, tyd en geluk want dit is van onskatbare waarde.
“Die tema kweek beskryf waarmee ‘n gesin daagliks besig is, sukses is nie eenmalig nie, dit moet voortdurend die wortel voor jou neus wees. Onthou die moederhart is die kind se klaskamer, die bekende leuse lees nie verniet; wat is ‘n huis sonder ‘n moeder nie?” Elkeen met sy unieke hartsgesin waaraan jy kweek moet onthou, sukses is nie finaal nie, mislukking is nie fataal nie en dit is die moed om aan te gaan wat tel,” sluit Lessing ‘n suksesvolle dag kragtig af.
Die dames van die Kameeldoring-dameskring nooi die gemeenskap uit om te kom inskakel by hul familiekring.







