KIERIEKLAPPER KUNSTEFEES: Wyn en rofstoei op die spyskaart
ALTESAAM ses wynkelders se spogwyne kan in die wyntuin op die feesterrrein geproe word.
MOKOPANE – ALTESAAM ses wynkelders se spogwyne kan in die wyntuin op die feesterrrein geproe word. Dit kos net R50 vir ‘n glas wyn en ‘n knibbelbordjie wat bestaan uit eetgoed verskaf deur Enterprise, Klipspringer biltong en Laharna olywe. Kom proe aan die wyne van Lanzerac, Altydgedacht, Morgenhof, Glen Carlou, Rietvallei en Spier.
Besoekers aan die KKKF wyntuin staan ook ‘n kans om ‘n wegbreek-naweek vir twee te wen (geborg deur Lanzerac). Dit is egter nie al wat in die Wyntuin wag nie. Chops & Chives gaan heerlike spitbraai-etes verkoop en Renate Sonnekus stal haar kunswerke uit. Saterdagoggend tussen 11:00 en 12:00 kan daar geluister word musiek deur die 1925-Band ,wie ook op die buiteverhoog net voor Bobby van Jaarsveld gaan optree. Die wyntuin is beslis die plek waar daar rustig gekuier kan word.
Vir die meer adrenalien-verslaafdes bied die KKKF op Saterdag vanaf 15:30 iets nuuts aan. Kom kyk hoe 14 rofstoeiers mekaar takel. Die KKKF-komitee het ‘n voëltjie hoor fluit dat hierdie rofstoeiers dink hulle is groter en sterker as Limpopo se boere! Komaan boere, kom bewys die teendeel!
Die WOW Mini-sirkus gaan die hele gesin vermaak met toertjies uit die boonste rakke. Tussen vertonings gaan hulle die feesgangers op die terrein vermaak met hul toertjies, ballonkuns, en gesigverf vir die kinders.




