KIERIE KLAPPER KUNSTE FEES: Kom kuier en kronkel saam
DIE gewilde radio-omroeper, Derrich Gardner van RSG, is op Maandag, 10 Augustus, in die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes se saal vir 'n spesiale uitsending van sy gewilde program "VAT 5".
MOKOPANE – DIE gewilde radio-omroeper, Derrich Gardner van RSG, is op Maandag, 10 Augustus, in die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes se saal vir ‘n spesiale uitsending van sy gewilde program “VAT 5”.
Oud en jonk staan ‘n kans om hulle gunstelingliedjies met Derrich op die verhoog te deel.
Kaartjies kos R100 per persoon en die vertoning begin 10:30.
Moet ook nie die kronkels van die kunstefees vergeet nie. Op Vrydag, 7 Augustus om 14:30 begin die kunstekronkel by die wyntuin op die feesterrein by Hoërskool Piet Potgieter met ‘n wynproe- en musiekkultuur. Vandaar kronkel die kunstekronkelaars na Honey Ball vir ‘n komedie deur Steve en Bertie Teich.
Die kultuurkronkel sluit ook ‘n orreluitvoering deur Wimpie Engelbrecht in die NG Moedergemeente in en dan kronkel dit terug na Honey Ball waar Lizelle die kunstekronkelaars die kuns van ‘belly-dancing’ gaan wys.
Die kunstekronkel sluit af met Frank Opperman se produksie “Klaagliedere van Ds Tienie Benade” in Hoërskool Piet Potgieter se skoolsaal. Kaartjies vir die Kunstekronkel is R180 per persoon wat Opperman se produksie insluit.
Die wildskronkel skop op Maandag, 10 Augustus om 11:30 af. Die wildskronkel begin met ‘n besoek aan die wildteelsentrum in Mokopane vir interaksie met uile, swart renosters en leeus.
Die kronkel gaan die kronkelaars op interessante kinkels lei – maar dit is ‘n geheim!
Die wildskronkelaars gaan daarna wild besigtig en word tussendeur bederf met ietsie lekkers om aan te knibbel.
Die kronkel sluit af met die voer van renosters en ‘n braai, terwyl James en André die kronkelaars vermaak om die kampvuur. Kaartjies vir die wildskronkel is R280 per persoon. Die kronkel eindig om 20:00.
KKKF Feesterrein toegang vir 6 – 8 Augustus 2015 is as volg: Donderdag (R50), Vrydag (R80) en Saterdag (R80). ‘n Spesiale 3-dag feestoegang: R180 vir volwassenes en hoërskoolkinders. Kinders: R40 per dag of ‘n spesiale 3-dag feestoegang van net R100.
Kunstenaars op die buiteverhoog is ingesluit by feestoegang en moet beslis nie misgeloop word nie. Donderdagaand is Snotkop aan die beurt en Vrydagaand kry Riana Nel en Dewald Wasserfall kans op die verhoog. Saterdagaand se jolyt begin met die 1925 Band waarna die gewilde Bobby van Jaarsveld as hoofkunstenaar kans sal kry.
Sien jou by die 15de KKKF!






