Waterprobleme verbeter
DIE inwoners van Mookgophong is dankbaar dat hulle waterprobleme drasties verbeter het nadat AfriForum 'n dringende hofinterdik teen die munisipaliteit bekom het om dié probleem op te los.
MOKOPANE- DIE inwoners van Mookgophong is dankbaar dat hulle waterprobleme drasties verbeter het nadat AfriForum ‘n dringende hofinterdik teen die munisipaliteit bekom het om dié probleem op te los.
Die interdik dwing die munisipaliteit om ‘n behoorlike en regverdige diens rakend6e watervoorsiening aan inwoners te lewer.
Phillip van Staden, voorsitter van die AfriForum-tak in Naboomspruit, sê dat inwoners al raadop was en AfriForum genader het om in te gryp. “Daar was gereeld wateronderbrekings in die gebiede wat deur die munisipaliteit bedien word, soms vir sewe dae aaneen. Die onderbrekings word gewoonlik aan gebrekkige infrastruktuur toegeskryf.”
Morné Mostert, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, sê daar is egter nou ‘n merkwaardige verbetering sedert die uitreik van die bevel. “Herstelwerk word vinniger gedoen en wateronderbrekings het baie afgeneem. Ons wil die munisipaliteit, in besonder die nuutaangestelde tegniese bestuurder, vir hulle goeie samewerking bedank.”
Die munisipaliteit het ook reeds in samewerking met die Waterberg Distriksraad met die eerste fase van ‘n projek begin om ‘n nuwe pyplyn vanaf die boorgatpompstasie tot by die reservoir aan te lê. Die eerste fase tot by die spoorlyn behoort teen Oktober 2015 voltooi te wees waarna fase 2 sal afskop.




