Editor's noteLocal NewsNews

‘Hy slaan my al jare’

'n Plaaslike inwoner het haar storie van jare se aanranding met Review gedeel.

POLOKWANE – Geweld op vroue is wêreldwyd ‘n aktuele brandpunt en is vandeesmaand opnuut in die kollig in Suid-Afrika omdat Augustus hier aan vrouesake gewy word.

Met Nasionale Vrouedag op 9 Augustus sal Suid-Afrikaners nie net vrouwees kan vier nie, maar ook besin oor vroue se rol en stand op alle vlakke in die samelewing.

Dit is veral aanranding op vroue deur mans wat ‘n knelpunt bly.

‘n Plaaslike inwoner het haar storie van jare se aanranding met Review gedeel.

Die vrou, wat anoniem wil bly, vertel sy en haar man is lank getroud en het twee jong kinders.

“Hy slaan my al vir baie jare. Ek het dit nog altyd vir my familie weggesteek. Ek het hom ook saam met ‘n ander vrou in die bed betrap. Hy het toe vir my ‘n geskenk van R80 000 gekoop om jammer te sê.

“Daarna het ek ‘n senuwee-ineenstorting gehad en eers na ‘n lang ruk weer reggekom.

“Hy het my baie tot binne-in die hospitaal geslaan. Sy familie weet hy doen dit, maar doen niks daaraan nie.

“Verlede jaar het ek finaal uitgetrek en ek sukkel nou om ‘n bestaan vir my en my kinders te maak. My man dring daarop aan dat hulle in ‘n privaatskool bly, maar dra niks by tot hulle skoolgelde nie. Ek het nog nooit in my lewe gewerk nie.”

Sy vertel voorts sy wou nooit ‘n saak teen haar man gemaak het nie, maar dat sy in Augustus verlede jaar besluit het om wel ‘n saak aanhangig te maak.

Nadat haar man daarvan uitgevind het, het hy haar weer aangerand, die houe het selfs voor die kinders geval.

“Hy moes vroeër hierdie jaar die kinders vir die naweek neem, maar my oudste kind wou nie na haar pa toe gaan nie.

Hy was baie kwaad en het my kom slaan tot ek my bewussyn verloor het.

“Ek het ‘n interdik teen hom gehad, maar hy het dit verontagsaam.”

Volgens Zelda Buitendag, ‘n kliniese sielkundige, getuig vroue in so ‘n situasie dat dit ‘n proses is om die man te verlaat.

“Van die redes waarom ‘n vrou in so ‘n slegte huwelik bly is dat hulle fisiek verhoed word om te gaan, godsdienstige redes, die misbruiker se leë beloftes dat hy sal verander, dat sy nie ‘n plek het om na toe te gaan nie en ook nie geld het om op haar eie te oorleef nie en dan ook die idee dat liefde alles moet oorwin.

“Hulle oortuig hulself dat as hulle die misbruiker anders benader, sal die misbruik stop,” aldus Buitendag.

Kol. Ronel Otto, provinsiale woordvoerder van Limpopo polisie, sê indien die man die interdik teen hom verontagsaam moet die vrou na die hof toe gaan waar ‘n lasbrief vir arrestasie uitgereik word en die man dan dadelik deur die polisie gearresteer sal word.

Buitendag voeg laastens by dat daar verder ‘n wanpersepsie bestaan dat dit nét vroue is wat in ‘n verhouding aangerand word.

Dikwels, benadruk sy, is dit ook die man in die verhouding wat deurloop.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button