Bosveld NewsBosveld SportNewsSport

Pure bloublits glorie

Die rugbypot van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) kook behoorlik oor na drie wenwedstryde in ‘n ry in die kwartfinaal van die gesogte Beeldtrofee vir mediumskole.

MOKOPANE – Die rugbypot van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) kook behoorlik oor na drie wenwedstryde in ‘n ry in die kwartfinaal van die gesogte Beeldtrofee vir mediumskole.
Die eerstespan, o/15- en o/14’s het hul wedstryde gewen en die spelers, leerders, ouers en ondersteuners langs die veld se vreugde was groot.
Die wedstryde is op Piet Pot se B-veld gespeel weens die Kierieklapperfeesvieringe op die skool se hoofveld.
Die eerstespan se bloublitse het behoorlik gekattemaai met die bal in goeie dryfbewegings en harde spel voor en agter langs in ‘n bielie van ‘n rugbystryd teen Trinity College.
Na die rustydtelling van 10 punte elk, het Piet Pot in die tweede helfte in die warm Bosveldson die oorhand gekry en die vreugdebeker het behoorlik oorgeloop toe die eindfluitjie blaas met die telling 37-25 in HPP se guns.
Die o/14-span wat ook die Limpopokampioen is, het vroegoggend teen Hoërskool Brandwag van Benoni gespeel en reeds vanaf die afskop gewys hulle gaan nie maklik geklop word nie.
Die jongelinge speel nog deur die hele rugbyseisoen skitter hardlooprugby en het met 46-0 geseëvier.
Piet Pot se o/15’s het ook nie teleurgesteld nie en na ‘n taai stryd teen Leeuwenhof met 11-8 koning gekraai.
Nou is dit vorentoe beur terwyl die Beeldtrofeë wink en Piet Pot se leerders, ouers en ondersteuners hul lippe aflek om die gesogte bekers hier op eie bodem te kry. Die spelers sal egter komende Saterdag alles in die stryd moet werp wanneer die eerstes teen verlede jaar se Beeldtrofeekampioen, Hoërskool Vryburg, kragte meet in die semifinaal hier op hul tuisveld.
Die o/15’s speel ook hier teen Brandwag, terwyl die o/14’s in Pretoria teen Midstream College kragte gaan meet.
HPP is besig om die geskiedenisboeke te herskryf met drie rugbyspanne in die Noordvaalkompetisie. Indien die eersterugbyspan die Noordvaalbeker wen, sal dit die eerste keer in 47 jaar wees wat dit gebeur.
Die laaste keer wat Piet Pot die Noordvaal (voorheen die direkteurstrofee) gewen het, was in 1968.
Die afrigters en spelers vra die gemeenskap om die spanne te kom ondersteun. Die eerste wedstryd begin om 10:00.

Deon Smith, heelagter van die o/15-span, snel doellyn toe. Hy is as die speler van die wedstryd aangewys.
Deon Smith, heelagter van die o/15-span, snel doellyn toe. Hy is as die speler van die wedstryd aangewys.
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button