‘Mokopane se mense is tops’
Ons bedank die gemeenskap. Julle is ware staatmakers!
MOKOPANE – Ons spannetjie van die World Wrestling Professional (WWP) rofstoeiers het in die vroeë oggendure van Saterdag, 8 Augustus, die pad aangedurf na Mokopane met drie voertuie, een daarvan ‘n Volkswagen Amarok dubbelkajuit, wat die rofstoei “ring” gesleep het, om die skare by die KierieKlapperKunstefees te gaan vermaak.
Van die eerste oomblik wat ons verby die bord gery het, wat lees, “Welkom in Mokopane” is ons oorval met vriendelikheid, gasvryheid en hulp.
Die rofstoei Saterdagmiddag was ‘n reuse sukses en die feesgangers het deurentyd op die punte van hulle stoele gesit en die manne binne die kryt toegejuig.
Ons het die voorreg gehad om die 15-jarige Monique Venter, Springbok amateur stoeikampioen, te ontmoet en in ‘n kleine mate by te dra tot haar fondsinsameling projek om die land in Bosnië te gaan verteenwoordig.
Die dissipline van die gehoor was onberispelik, en nie een keer is ‘n rofstoeier, of te wel ‘n “heel” soos wat ons dit in die bedryf noem, met ‘n voorwerp gegooi nie. Dankie Mokopane, julle optrede spreek boekdele en is vol van julle goeie opvoeding en Christelike norme. Na die laaste geveg het die kinders die kryt omring en met hulle hande op die matte en planke geslaan, dit was besonders.
Na ‘n suksesvolle dag en ‘n heerlike bord gekookte kos het ons die pad terug Johannesburg toe aangepak, sowat 6 km buite Mokopane. Net na die weegbrug, het ons ‘n harde slag en klap geluid op die sleepwa gehoor. Nadat ons ondersoek ingestel het, het ons met ‘n skok ontdek dat die soliede ronde staaf yster wat die hak (“tow ball”) aan die A-raam van die sleepwa verbind en die remme op die sleepwa aktiveer uit die A-raam geruk het. As dit nie was vir die ketting om die hak op die Amarok nie het die sleepwa die pad verlaat. Ons het ‘n mobiele swysmasjien benodig om die ronde staaf in die A- raam vas te swys om verder die sleepwa te kan sleep.
Ons is terug na die KKKF en Dillon Lerm, die seremoniemeester, het vinnig ‘n paar oproepe gemaak en met die organiseerders gesels, waarna hy toe ‘n afkondiging gemaak het dat ‘n swystegnikus benodig word. Binne ‘n minuut het Fanus Bezuidenhout en sy vrou Bettie aangemeld en hul hulp aangebied. Fanus het in sy bakkie gespring en 50 km uitgery na sy plaas om die nodige gereedskap te gaan haal en binne twintig minute was ons weer gehak en reg om te ry.
Fanus was bereid om ‘n goeie musiekvertoning mis te loop en al die pad terug plaas toe te ry om die gestrande Wes-Randers van Johannesburg te kom help in die middel van die nag.
Groot was ons verbasing toe Fanus sê ons skuld hom niks. Hy het gevra wat die sin van die lewe sou wees as mens nie ander mense in nood kan help nie.
Ons was sprakeloos, want waar ons vandaan kom betaal ‘n mens ten duurste vir dienste.
Mokopane is tops! WWP se stoeiers is hartlik verwelkom en na omgesien tydens die byeenkoms en Fanus het gewys hoe barmhartig die mense teenoor besoekers en vreemdelinge is. Ons sien uit om so spoedig moontlik weer te kom inloer in hierdie dorp met sy hartlike mense.
Ons bedank die gemeenskap in besonder vir Fanus en Bettie. Julle is ware staatmakers!
Die WWP rofstoeiers



