Tuinvrou sal gemis word
'n Geliefde inwoner, ma, ouma en gesogte sakevrou op die dorp, Judie Blignaut (75), is Saterdagaand na 'n skielike en kort siekbed in die Mediclinc Limpopo oorlede.
MOKOPANE – ‘n Geliefde inwoner, ma, ouma en gesogte sakevrou op die dorp, Judie Blignaut (75), is Saterdagaand na ‘n skielike en kort siekbed in die Mediclinc Limpopo oorlede.
Judie het in 1975 vanaf Swartwater na Mokopane verhuis en in 1977 koop sy die ou Potties Kwekery langs die Wimpy in Thabo Mbekistraat.
Daar het haar groenvingers behoorlik geblom en kort voor lank was die stukkie grond te klein vir haar planne en verskuif sy Potties Kwekery in 1980 na die munisipale grond langs die Wildteël-sentrum.
Judie het met die hulp van haar man, Hennie, ‘n familie- vriendelike kweekhuis gebou, voetpaatjies gelê, nette gespan en ‘n leë stuk grond omgetower in ‘n pragparadys en rustige hawe waar die gemeenskap hul kragte kon gaan herwin.
Sy was vir jare lank ‘n lid van die Tuinbouklub en haar plek en kreatiwiteit sal daar gemis word. Tuinbou was haar passie en sy het ‘n groot algemene kennis van bome, plante, blomme en gifstowwe gehad.
Judie was drie keer genomineer as Sakevrou van die Jaar en het die titel twee keer verower.
In 2007 tree sy af en verkoop die kwekery waarna sy en Hennie gedroom het om in hul aftrede die wêreld te sien. Ongelukkig het Hennie ‘n paar dae later gesterwe.
Sy het haar liefde vir tuinmaak voortgesit en die mooiste orgideës by haar huis gekweek.
Die familie bedank elkeen wat haar lief gehad en ondersteun het deur die jare.
“Dankie vir elke drukkie, handdruk, bemoediging, saam droom, lag en geselsies. Haar plekkie is leeg in ons harte, maar God sal ‘n pragtige nuwe blomme kom plant waar hierdie een gepluk is,” sê haar kinders.




