VROUEMAAND: Retha maak haar merk op mynbedryf
Dit is die derde week wat Bosveld met ikoniese vrouens gesels en vandag geselsons met Retha Eastes, die senior bestuurder: ondernemingverskaffer-ontwikkeling van Ivanplats.
MOKOPANE – Augustusmaand is die herdenking van vrouwees wat hier op die dorp deur die skoner geslag beskryf word as ‘n mengsel van sag, sterk en passievol.
Dit is die derde week wat Bosveld met ikoniese vrouens gesels en vandag is ons in die kantore van Ivanplats, Platreef-projek, wat nadat al drie beplande fases geïmplementeer is, bekend sal staan as een van die grootste platinum myne in die wêreld.
Bosveld gesels met ‘n boorling van die dorp, Retha Eastes, die senior bestuurder: ondernemingverskaffer-ontwikkeling van Ivanplats.
Sy vertel nadat sy haar graad in Bcom aktuariële wetenskap en finansies by die Universiteit van Pretoria verwerf het, is sy getroud met Riaan. Die egpaar spog met twee beeldskone dogters. Retha is ook die stigter van Office Angels recruitment specialists en op haar kerfstok is vier suksesvolle besighede wat van die grond af opgebou en verkoop is.
Wat beteken vrouwees vir jou?
Om ‘n heel persoon te wees en om voluit te kan lewe. Dit is wonderlik om ‘n vrou te wees. Ek hou van die lekker en die sleg daarvan.
Wat beteken vrouwees nie vir jou nie?
Omdat ek ‘n vrou is beteken dit nie dat ek nie vrylik keuses kan maak nie.
Vrouens moenie in ‘n situasie geplaas word waar die besluite vir hul gemaak word nie.
Watter vrou inspireer jou?
My inspirasie word verkry deur die alledaagse vrouens wat soggens werk toe loop, vrouens wat hulself sal benadeel om hulle kinders op hul hande te dra. Die ma’s en vrouens van ons gemeenskap is vir my ‘n ware inspirasie.
Waarvoor is jy dankbaar?
Ek is dankbaar vir my steunpilaar, my man Riaan, wat my nie net ondersteun nie, maar my motiveer en my help om groter avonture aan te pak en vir my twee dogters wat my lewe rooskleurig inkleur.
Ek is dankbaar vir my familiestruktuur. Ek is van kleintyd af die wonder van vryheid geleer en daarom skrik ek nie vir ‘n uitdaging nie, ongeag hoe groot!
Ek is dankbaar om keuses te kan hê en om te weet as die lewensperd my afgooi klim ek net weer op.
Wat is die grootste mylpaal wat jy tot op hede bereik het?
Om twee gesonde gebalanseerde dogters groot te maak.
Moederskap kom nie natuurlik vir almal nie en ek weet eintlik nie hoe ek dit reggekry het nie, sê sy laggend.
Watter raad wil jy graag met ander vrouens deel?
Voordat jy ‘n besluit neem dink mooi daaroor na en vra jouself wat jy wil bereik, wie jy is en wat is huidiglik vir jou ‘n prioriteit.
Moenie stil sit en verwag jou omstandighede moet vanself verbeter nie, neem aksie en gryp geleenthede aan.
Die mynwese word opgesom as ‘n man’s world hoe ervaar jy dit?
‘n Vrou moet defnitief baie harder werk om haarself te bewys en die nodige respek te verdien. ‘n Vrou moet ook leer om haar emosies te bestuur, want as ‘n man kwaad word dan word dit reverdig, maar as ‘n vrou kwaad word, word dit teen haar gehou.
Maar “who said life is fair, it’s fun,” sê sy met ‘n groot glimlag.
Is daar ‘n spesifieke slagspreuk wat jou motiveer?
“In matters of style go with the flow and in matters of principal stand like a rock”!
Dit is my leuse van universiteitsdae af en dit is hoe ek my verhouding met mense, werkers, my gesin en vriende uitleef.




