Bosveld NewsNews

REDAKTEUR SE INK: Lente vra los, lig, laf, lag…

Die bloeisels bot en daar is vrolike kleure en veral spatsels groen oral te sien in die Bosveld.

Die bloeisels bot en daar is vrolike kleure en veral spatsels groen oral te sien in die Bosveld. Die lente het vandeesweek stil-stil sy intrek geneem en is dit nou amptelik tyd om jasse, truie en stewels weg te pak.

Aan die einde van die winterseisoen groet ons ook die winterskolesport wat Bosveld naweek vir naweek langs die netbal, rugby- en hokkievelde besig gehou het. Hoërskool Piet Potgieter se rugby was vanjaar kookwaterplesier wat die gemeenskap langs die velde saamgesnoer het. So deur ‘n kameralens sien en beleef ‘n mens al die emosies.

Daar is die opwinding van ‘n wen en die teleurstelling van ‘n loesing. Some you win and some you loose, want daar kan mos net een wenspan wees. Die saam aanmoedig, wenkrete en saam dankie sê het vir ‘n onblusbare gees gesorg.

Septembermaand is die begin van lente. Nuwe bloeisels, heerlike geure, ‘n oop blou lug en warmer weer sê hallo. Lente is ook die seisoen om skoon te maak, ‘n tyd om ontslae te raak van groot egos, spinnerakke teen die mure en in jou kop en om jou tuin om te dolwe. ‘n Seisoen om weg te doen met die groot gejaag na materiële dinge en voluit met ‘n eenvoudige leefstyl die lewe aan te gryp.

Die petrolprys is effe aan die daal en op die modefront pronk die skonergeslag skielik weer swierig in vrolike sonrokke, ooptoon-sandale en sonhoede en -brille om die verbiddelike bosveldson te fnuik. In die winkels skiet roomys se prys skielik die hoogte in en die koeldrankkaste word druk besoek. Die bredie- en sopresepte word weggepak en koue gesonde slaaie word beproef om van die winter se vergrype ontslae te raak.

Wanneer die lente sy buiging maak wag ons ewe gretig vir die eerste reën om die stof weg te was. Dit is tyd om weer in ‘n swembad te baljaar, lang ente te gaan stap, langs die viswaters te kuier, piekniek te hou of tot laataand om die braaivleisvure te kuier.

In die lente sê ons ook dankie vir al ons baie seëninge en hier in Mokopane word die eerste Jakarandabome wat die dorp in ‘n perskleed tooi afgewag.

Loer gerus op Maandag, 7 September om 20:00 na die kyknetprogram, Fiesta, wat ‘n terugblik gee oor die onlangse KierieKlapperKunstefees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button