Suikerbekkies uitstettingsbevel: kan bly maar…
Die Departement van Openbare Werke, Paaie en Infrastruktuur wat onlangs die uitstettingsbevel teen die Suikerbekkies Kleuterskool verkry het, het dit verlede week teruggetrek.
POLOKWANE – Die Departement van Openbare Werke, Paaie en Infrastruktuur wat onlangs die uitstettingsbevel teen die Suikerbekkies Kleuterskool verkry het, het dit verlede week teruggetrek.
In die hofbevel is die kleuterskool gelas om hulle perseel by 100 Oosstraat te ontruim maar die departement het verlede week na samesprekinge met verskeie rolspelers dié besluit geskrap.
Paena Galane, woordvoerder van die departement, bevestig “die Departement van Openbare Werke, Paaie en Infrastruktuur, die Departement van Onderwys en die bestuur van Suikerbekkies Kleuterskool het ooreengekom om die saak buite die hof te skik”.
Die twee departemente en die bestuur van die kleuterskool het verlede Woensdag vergader om die saak te bespreek en te mik na ‘n ooreenkoms waarby almal kan baat.
‘n Staatsadvokaat het tydens die vergadering ingesit. Verteenwoordigers van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het ook die vergadering bygewoon.
Annelene Wagner, hoof van die Suikerbekkies Kleuterskool, sê die vergadering het goed afgeloop.
Volgens haar het die kleuterskool se bestuur drie opsies op die tafel gesit vir die departemente om te oorweeg.
Dit behels die volgende:
• Die kleuterskool funksioneer steeds as ‘n publieke skool indien die Departement van Onderwys hulle as deel van die sy stelsel erken omdat hulle gr. R akkommodeer.
• Die kleuterskool verhuur die perseel.
• Die kleuterskool verkoop die perseel.
Volgens Galane is die regering bereid om ‘n huurooreenkoms met die kleuterskool aan te gaan solank Suikerbekkies Kleuterskool aan die Suid Afrikaanse Skolewet voldoen.
Naledzani Rasila, die Department van Onderwys se senior kommunikasiebestuurder, sê die kleuterskool moet die departement se artikelbestuur vir advies kontak.
“Die departement sal slegs die kleuterskool erken as dit aan die artikelbestuur bewys kan lewer dat aan sekere vereistes voldoen is.
“Kleuterskole word deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling beheer. Die Departement van Onderwys bestuur graad R tot 12,” verduidelik Rasila.
‘n Verheugde Wagner is verlig met die uitkoms. “Baie dankie vir almal se gebede, ons sien uit na ‘n geseënde toekoms vir Suikerbekkies.”




