‘n Voorbeeld van ware liefde
inwoners van die Piet Potgieter Monument Ouetehuis, het hul 64ste huweliksherdenking op 1 September gevier.
MOKOPANE – Oppie en Willie Opperman, inwoners van die Piet Potgieter Monument Ouetehuis, het hul 64ste huweliksherdenking op 1 September gevier.
“Ek onthou ons troudag soos gister, dit het katte en honde gereën, maar sommige beweer dat as dit op jou troudag reën, bring dit seën en na 64 jaar glo ek daar steek waarheid in,” vertel Willie met ‘n glinster in haar oog.
Oppie kom sit langs sy vrou op die bed en neem haar hand in syne, ‘n prentjie van opregte liefde. Oppie vertel dat hy sy hart op die donkerkop-nooi verloor het toe hy die korfbalspan rond gekarwei het. Sy was genomineer vir die Springbokspan vertel hy trots.
Willie sê tergend sy het altyd sy oog in die tru-spieëltjie gevang, maar dit was tydens ‘n volkspeledans wat hy finaal haar hart gesteel het en op 1 September 1951 op 21-jarige ouderdom, bevestig hulle hul liefde aan mekaar. Hulle spog met drie kinders en talle kleinkinders en praat met trots van elkeen.
Oppie en Willie is jarelange inwoners van Mokopane, Oppie het vroeër jare lank vir Perskor gewerk en Willie was vir 38 jaar die eienaar van die Joanne babawinkel.
As huweliksmaats het hulle dit geniet om te dans. “Ek het Oppie leer dans en binne ‘n japtrap het ons gereeld op Ysterberg die aand deur geskoffel.”
Hulle geheim vir ‘n gesonde huwelik is moet nooit kwaad gaan slaap nie.
“Geloof, hoop, liefde… en die grootste hiervan is inderdaad die liefde.”




