Lollos bekoor die jongspan
Lolos, Lettie en span het verlede Saterdag in Mokopane kom kuier en die jongspan behoorlik vermaak.
MOKOPANE – Lolos, Lettie en span het verlede Saterdag in Mokopane kom kuier en die jongspan behoorlik vermaak.
Daar was gedans, gespring, in vreugde saam gesing en die jongspan het hul ouers se arms behoorlik gedraai vir ‘n Lettie of Lollo teddiebeer.
Arietha Truter vertel haar 19 maande-oue dogter, Marné is een van Lollos se grootste aanhangers en dat sy die aand vreeslik geniet het. “Ek moes eenvoudig vir haar ‘n Lettie teddiebeer koop, Marné slaap nou elke aand met Lettie onder die arm,” vertel sy met ‘n glimlag.
Die suksesvolle geleentheid was deur die Nederduits Hervormde Kerk aangebied en hul bedank die volgende borge vir hul bydrae:
Park Hotel, Spar, Pick ‘n Pay, Hannes en Elsa Venter, Koos Batterye en ook in besonder vir Dewald Snyman van PCC Techsure Soundz wat op kort kennisgewing die klank puik beman het en vir Ready Mix wat op bystand was indien daar enige kragonderbrekings sou opduik.
“Ons bedank ook almal wat kaartjies geborg het vir gesinne wat die geleentheid nie kon bekostig nie asook almal wat die aand saam ons geniet het.”






