‘Brand nie van natuurlike oorsake’
Die gewilde Rattle Cage Pub & Grill in Geyserstraat was in 'n brand verwoes Mandagaand.
MOKOPANE – “EK is moedeloos. Dit is ‘n magtelose gevoel om jou besigheid wat jy oor die laaste ses jaar opgebou het voor jou oë te sien afbrand.”
Só gesels Martin Maritz, eienaar van die gewilde Rattle Cage Pub & Grill in Geyserstraat, nadat dié gwilde kuierplek Maandagaand deur ‘n verwoestende brand in R700 000 se puin gedompel is.
Volgens Maritz het die brand om 22:00 ontstaan nadat die kroegman rook op die dak gewaar het. “Drie kliënte het dadelik op die dak gespring in ‘n poging om die vlamme te blus, wat sy oorsprong van die publieke swembad se kant af gekry het. Een van die kliënte beweer hy het vier verdagtes die hasepad sien vat.
Ongelukkig het die wind die oorhand gehad en die ses-jaar oue grasdak het binne minute heeltemal vlam gevat.” Maritz sê die skade is groot, maar hy is dankbaar niemand is ernstig beseer nie.
“Een van die kliënte wie ‘n poging aangewend het om die vlamme te blus, het brandwonde aan sy kuit opgedoen en ‘n ander een is behandel vir snye aan sy voet nadat ‘n bottel ontplof het.
Martiz sê hy gaan ‘n saak by die Mokopane Polisie oopmaak want volgens hom het die brand verseker nie ontstaan weens natuurlike oorsake nie.
Hy bedank die knap Mogalakwena Brandweerspan onder leiding van Tobie van Deventer vir hulle vinnige optrede en in besonder die kliënte wie die vlamme probeer blus het.
“‘n Saak van brandstigting is geopen en ‘n deeglike ondersoek word voortgesit,” vertel konstabel Irene Masingi, woordvoerder van die Mokopane polisiestasie aan Bosveld.





