Motorfietsryers deel die kankerboodskap
Die Cancer.vive veldtog het Dinsdagmiddag op hul motorfietse en motors deur die strate van die dorp gery
MOKOPANE – Kanker is nie ‘n doodsvonnis nie en enigeen, ongeag van jou ras of velkleur, kan dit kry.
Dít was die kragtige boodskap van die reisgeselskap van die Cancer.vive veldtog wat mense bewus maak van kanker.
Die reisgeselskap het Dinsdagmiddag op hul motorfietse en motors deur die strate van die dorp gery, waarna hulle by die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes aangedoen het.
Die groep van 65 wat uit kankeroorlewendes en ondersteuners bestaan, het met ‘n kort sang- en dansopvoering die gehoor betower en die glanspersoonlikheid en kanker survivor Janie du Plessis het kortliks vertel hoe die siekte op haar pad gekom het. Daar is ook gekyk na die mites rondom die siekte waarna almal aan heerlike pienk pannekoeke kon smul.
Die groep se reis het op 10 September in Johannesburg begin en hulle gaan binne agt dae sowat 2 300 km in Gauteng, Limpopo, Noordwes en Mpumalanga aflê om kankerbewustheid te kweek. Dit is die vyfde jaar dat dié rit aangepak word.





