BOSVELDPRAATJIES: Lam Bokke, biltongdroogte, troeteldiere gedy
En daar verloor die Bokke toe teen die Japannese kersiebloeisels. Ag genade, die hele land sit in sak en as en almal eis nou Jean de Villiers en Heyneke Meyer se koppe.
En daar verloor die Bokke toe teen die Japannese kersiebloeisels. Ag genade, die hele land sit in sak en as en almal eis nou Jean de Villiers en Heyneke Meyer se koppe.
Dis ‘n erger ramp as die runderpes, die Broederbond, die NG Kerk se dalende ledetal en die ANC se pro-korrupsie veldtog tesame want al die mooipraatjies deur van hulle politici dra net by tot al hoe groter korrupsie .
Opwindende tye wat ons in die dorp beleef, veral die kleindorpse politiek, bedoel ek nou. Daar ruk die AP Kerk sy stert in ‘n krul oor hy met R500 beboet is deurdat hy die gemeenskaplike beplanningskalender verontagsaam het en onttrek toe sommer terstond. A-nee-a kerkleiers, wat het dan geword van broederlike naasteliefde, of het julle nou julle eie klein eilandjie in Mokopane gestig? Ek ondersteun gereeld elke jaar julle basaar en kan persoonlik getuig van die gehalte van veral die wildspasteie wat hierdie jaar daar verkoop is. Om egter inbreuk te maak op ‘n ander kerk se basaardatum van die afgelope 28 jaar soos dit in die kalender opgeteken is, is darem nie mooi nie.
Kyk, my vorige rubriek oor die wanderlust van ‘n persoon wat graag in die openbare oog wil wees, het nogal pret opgelewer. Sowat van warm lug wat daaroor genereer is, het ek lanklaas teengekom. Facebook het gegons, Bosveld se stoele is behoorlik deurgesit deur van die beswaardes en my selfoonbattery wat gewoonlik minstens twee dae hou, het na agt ure die gees gegee. Iemand vertel my dat een van die beswaardes op Facebook beweer hy wil graag koffie drink saam met die ‘Oom”. Welkom, Neef, welkom! Ek is in die telefoonboek, maar wees gewaarsku: ek skryf wat ek hoor neer.
Hoërskool Piet Potgieter het toe ‘n heerlike Wildsfees gehou met spyse uit die boonste rakke. Net jammer daar was nie meer mense vir so ‘n reuse-eland op die spit nie. Julle het bepaald iets baie lekker gemis. Ek wil egter bietjie slym van my bors afkry. As jy iets adverteer, moet jy sorg dat daardie artikel beskikbaar is, anders kom dit op bedrog neer. Piet Pot waar was al die biltong waaroor daar vooraf so ‘n bohaai gemaak is? Ek daag daar op met ‘n biltonglus wat behoorlik op die grond sleep en om dan te hoor dat alles reeds vooraf uitverkoop is, is net nie goed genoeg nie. Dis soos om basaar toe te gaan vir basaarpoeding,net om te verneem alles is die vorige dag reeds verkoop. Julle skuld my – ek weet net nie wat nie, maar as volgende jaar se spitwild weer so lekker gaan wees, is ek weer daar. Hopelik is daar dan darem bietjie biltong.
Mokopane, waar is jou sosiale gewete? Wat beteken die syfers 1 344 99 483 vir julle? Waarskynlik niks, behalwe as jy die onlangse algemene jaarvergadering van die Percy Fyfe DBV bygewoon het. Ek besit ‘n 20% aandeel in buurvrou se DBV worshond. Dis nou oor al die kere wat die vriendelike dingetjie vir my kom kuier en het daarom die vergadering bygewoon. Skokkende syfers wat daar uitgekom het, maar darem ook ‘n paar mooi dinge.
Soos dat daar die afgelope jaar 1 344 honde hanteer is waarvan 890 uitgesit moes word. Katte se getal is meer as die helfte daarvan, In totaal is 3 755 diere hanteer, waarvan 1 571 uitgesit moes word. Die hartseer is egter dat net 99 diere ‘n nuwe tuiste gevind het.
Voor julle dus ten duurste vir ‘n viervoetige toevoeging tot die gesin by ‘n teler (en dan is dit dikwels agterplaastelers) betaal, gaan maak eerder ‘n draai by die DBV. Dit kos hulle R630 om ‘n hond vir 14 dae te moet hou en dan ‘n verdere R50 vir die uitsit daarvan.
Spur doen pragtige werk met sy Woensdagaande ondersteuning van die DBV en kon oor die afgelope ses maande reeds R32 564 insamel, maar dit is net ‘n paar druppels in die emmer.
Die DBV het ook nou ‘n weggooihok. Neem jou troeteldier soontoe pleks van om die dier in die veld of langs die pad af te laai. Dit word dan soveel makliker om ‘n nuwe baas vir hom te vind en verhinder ook sommer dat jy jou naam krater maak deur die sogenaamde “optelhond” wat jy daar aanbring, per ongeluk op sy naam noem.
Komaan, Mokopane, ondersteun die DBV in beide sy fondsinsamelings-projekte en om nuwe tuistes vir weggooidiere te vind – hul sogenaamde “forever homes”.
Om terug te kom tot die rugby. Ek wonder of diegene wie nou so hard skreeu dat Heyneke se kop moet rol, al geregistreer is vir volgende jaar se munisipale verkiesing.
Ek meen, as die Springbokafrigter en die oues van dae in die Bokspan se koppe nou geëis word weens die skoknederlaag teen Japan, hoeveel te meer moet Zuma en sy trawante s’n waai oor die gemors waarin hulle ons mooi land wanbestuur het?



