Ontmoet nuwe DA-lid, Yolandé Coetzee
Yolandé Coetzee gesels met Bosveld oor die nuwe uitdaging wat nou op haar pad gekom het.
MOKOPANE – Sy wil opbouende lewensvatbare projekte saam met die DA se span aanpak en die dorp weer die spog plek maak wat dit voorheen was, sê Yolandé Coetzee die nuwe DA raadslidkandidaat vir Wyk 32.
Coetzee is aangestel in die plek van Marcelle Maritz wat oorgeloop het na die Vryheidsfrond Plus.
Coetzee wat die afgelope twaalf jaar op die dorp woon, is ook soggens die sekretaresse van die Mokopane Besigheidskamer waar sy al die administratiewe werk hanteer.
Op ‘n vraag of dit nie botsende belange is om ook by die dorp se sakekamer te werk en vir ‘n spesifieke party te staan sê sy nee, sy doen slegs die sekretariële pligte daar en het ook vooraf toestemming gekry toe sy aansoek vir die DA pos gedoen het.
“Die politieke-arena is ‘n nuutjie en ‘n groot uitdaging, maar sy besef ook terdeë sy het sterk opposisie.
“Ek sien kans en weet ek kan baie vir die gemeenskap beteken. My pos as sekretaresse is net halfdag en ek skei dit van my werk as DA-lid.
“Die besigheidskamer is ‘n nie-politiese organisasie en ek is nie op die bestuur nie.”
Op ‘n vraag of die oorloop van Maritz wat groot aanhang in die gemeenskap het na die VF+ nie nou verdeeldheid tussen die wit stemme gaan veroorsaak en die ANC in wyk 32 gaan laat wen nie, sê Coetzee as mense steeds vir die DA stem sal hulle verseker wen, maar as hulle vir ‘n persoon gaan stem kan dit verdeeldheid van stemme meebring.
Coetzee sê sy wil ‘n blywende impak maak op die breë gemeenskap.
“Ek het nie vorige politieke ondervinding nie, maar het nog altyd belanggestel.
“Ek is ‘n groot aanhanger van Helen Zille en by die nuwe DA leier, Mmusi Maimane, het ek dadelik aanklank gevind.”
Sy wys daarop dat sy weens haar werk by die besigheidskamer weet wat in die dorp gebeur en ook by die munisipaliteit waar sy goeie betrekkinge opgebou het.
“Ek is bly die onrus daar is nou verby en ek kom goed oor die weg met die mense en hulle hou my op hoogte van wat gebeur.”
Sy is hier om die werk te doen met die steun van die DA en haar man, Christo, bankvas agter haar.
“Ek bly by my waardes en glo ek kan ‘n verskil maak.”
Coetzee vra die inwoners van wyk 32 om te sorg dat hulle geregistreer is vir die tussenverkiesing wat op 11 November gehou gaan word.
Sy kan by 079 2737986 gekontak word.




