Bosveld NewsLocal NewsNews

‘Beter diens kon dalk sy lewe red’

"Indien al die toerusting in die hospitaal gewerk het en ons gehaltediens van die personeel ontvang het, sou my pa dalk vandag nog gelewe het."

MOKOPANE – “Indien al die toerusting in die hospitaal gewerk het en ons gehaltediens van die personeel ontvang het, sou my pa dalk vandag nog gelewe het. Wat het geword van die eed wat dokters aflê waarin hul beloof om ten alle tye die mens in nood te help tot die beste van hul vermoë? Hoeveel families gaan geliefdes aan die dood moet afstaan weens die gebrek aan diens in hospitale voor iemand daadwerklik gaan ingryp? Dit is die vrae in Bennie Verster se gemoed terwyl hy gebroke aan Bosveld vertel hoe sy pa Frans Verster (61), ‘n jarelange inwoner van Mokopane, verlede Dinsdagoggend in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal oorlede is.

Frans is op Saterdag, 3 Oktober, in die Voortrekker Hospitaal in Mokopane opgeneem nadat vermoed is ‘n bloedklont in sy linker been het die bloedvloei verstop.

“Hy is vier keer die aanbevele dosis morfien ingespuit in ‘n poging om die pyn te verlig, maar steeds was dit vir hom ondraaglik. My pa is Saterdagmiddag oorgeplaas na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal, waarna hy na die Mankweng Provinsiale Hospitaal geneem is om skanderings te doen weens die feit dat die Pietersburg Provinsiale Hospitaal se toerusting buite werking is, net om weer teruggestuur te word omrede hul toerusting glo ook buitewerking is,” vertel Bennie. Bennie sê: “Ons het vreeslik gesukkel om inligting vanaf die hospitaal te kry en eers na my pa se dood het die dokter ons in kennisgestel dat die toerusting buite werking is.

Ek wens hulle het ons van die begin af gesê, want dan het ons dadelik ‘n ander plan gemaak.” Bennie vertel hy het vir die laaste keer Maandagaand met sy pa gepraat en die reëling was dat hy vroeg Dinsdagoggend oorgeplaas gaan word na ‘n hospitaal in Pretoria waar die nodige operasie uitgevoer kon word. “Die hospitaal het my 06:50 Dinsdagoggend gekontak met nuus dat my pa weens komplikasies oorlede is.

Dit is vir my uiters swak dat my pa teen 12:00 steeds nie na die lykshuis geneem is nie en hulle sy liggaam in ‘n laken toegedraai het en hom in ‘n kamer ingestoot het,” vertel Bennie hartseer.

Macks Lesufi, ‘n woordvoerder van die Departement van Gesondheid, sê: “Die MRI-skandeerder in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal is buite werking, maar ons het ‘n ooreenkoms met die Steve Biko Akademiese Hospitaal en die George Mukhari Hospitaal in Pretoria om pasiënte, nadat hul deur spesialiste verwys is, na een van die twee hospitale te stuur. Dit is alleenlik die MRI-skandeerder wat nie werk nie, verder werk al die ander toerusting in die hospitaal.” Frans het ‘n passie vir musiek gehad en kon ‘n verskeidenheid instrumente speel, maar sy grootste liefde was sy kinders en kleinkinders. “Ek het Saterdae gebraai terwyl my pa die kitaar getokkel het, ek gaan dít veral mis,” sê Bennie. ‘n Verassingsdiens is verlede Vrydag vanuit die NG Moedergemeente Kerk gehou. Die familie bedank die gemeenskap vir hulle ondersteuning en liefde.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button