Gemeenskap wil weet
REDAKTEUR SE INK: Of dit nou gaan oor die politiek, kerksake, rugby of 'n twis oor die nuutste haargiere, Mokopane se inwoners slaap of sluimer nie...

Of dit nou gaan oor die politiek, kerksake, rugby of ‘n twis oor die nuutste haargiere, Mokopane se inwoners slaap of sluimer nie en hier in Bosveld se nuuskantoor word ons reg deur die jaar toegegooi met genoeg nuus om die gemeenskap in te lig en saam te snoer.
Met ‘n tussenverkiesing in Wyk 32 op hande en die 2016 verkiesing wat ook nader kruip is dit die taak van gemeenskapskoerante om hulle lesers in te lig oor wat op plaaslike vlak gebeur.
Plaaslike owerhede is deesdae dikwels in die nuus weens korrupsie, die onvermoë om die nodige dienste te lewer en geldtekorte. Die Mogalakwena Munisipaliteit wat die dorp vroeër vanjaar in chaos gedompel het, is geen uitsondering nie.
Om die gemeenskap op hoogte te hou dra daartoe by om ‘n ingeligte stem uit te bring, dus moet die rol van gemeenskapskoerante nie onderskat word nie. In geen dorp of gemeenskap is daar net goeie nuus nie. Misdaad, moord en dood, armoede en politieke debatte is nuus wat die gemeenskap raak en die taak van ‘n gemeenskapskoerant is om sy lesers daaroor in te lig.
Die besluit pas van die NG kerk se algemene sinode om homoseksuele lidmate ten volle aan al die voorregte van die kerk te laat deelneem lok in die gemeenskap gemengde reaksie uit.
Ons lesers wil weet wat die dorp se kerke daaroor te sê het. Ons wag nog vir terugvoering. Dr. Chris Harris van die NG Hulp en Hoop het laat weet die kerkraad het nog nie daaroor vergader nie dus volstaan hy voorlopig by die besluit van die sinode.
Van die os na die jas. Die undercut haarstyl het die afgelope jaar behoorlik vlamgevat onder die plaaslike hoërskoolseuns wie dié haargier slaafs navolg, terwyl van die leerkragte daaroor grom.
Hierdie gewilde haarstyl word wêreldwyd gedra soos nou op die rugbyveld gesien waar spelers van verskeie lande aan die Rugby Wêreldbekertoernooi in Engeland deelneem.
Waar kom die styl vandaan? Die undercut is al meer as ‘n eeu oud, dus eintlik ‘n outydse haarstyl. In die Eerste Wêreldoorlog het soldate hul hare so kort aan die kante geskeer en langer bo gelos om die ongemak van die swaar helmets op hul koppe te verlig. Teen die Tweede Wêreldoorlog het die Amerikaanse soldate die undercut na die SS of Nazi haarstyl herdoop.
Bosveld het met hoërskoolleerders gesels wie meen die undercut is die ideale snit hier in die warm Bosveld. Dis ‘n netjiese kapsel sonder wolle om die ore of wat aan die hempskrae hang. Te lank bo, vereis werk, daarom werk mediumlengte bo die beste.
En terwyl die erge hitte inwoners noop om sonbrille, hoede en sonskerm nader te trek om hulself teen velkanker te beskerm, vra Kansa die gemeenskap om sy Relay for Life deurnagstappery Vrydagaand op Hoërskool Piet Potgieter se rugbyveld te kom ondersteun.
Na die groot stap is daar genoeg tyd vir rus voor die televisie wanneer die Bokspan vir Wallis Saterdagmiddag aanvat in die kwarteindstryd van die wêreldbekertoernooi. Go Bokke!




