Bosveld NewsNews

Huiskoop is nie vir sissies

KOLLIG: 'n Mens se huis is waar jou hart is en die besluit om te koop of te huur is 'n groot en soms ietwat omstrede een.

‘n Mens se huis is waar jou hart is en die besluit om te koop of te huur is ‘n groot en soms ietwat omstrede een.

Beide het sy voor- en nadele. Jou besluit sal hoofsaaklik afhang van finansies, gesinsgrootte, beskikbare fondse en die mate van stabiliteit wat vereis word.

Huiseienaarskap kan van jou woonhuis ‘n belegging maak aangesien gedwonge verbandpaaiemente soos ‘n verpligte spaarplan kan wees. Jy kan ook verbeterings aanbring en die huis se kapitaalwaarde daardeur verhoog.

Daar kan ook goeie redes gegee word om huur bo koop te verkies. Jou leefstylomstandighede kan vereis dat jou gesin groter mobiliteit moet hê sou julle skielik moet verhuis. Huurkostes is ook meer voorspelbaar en jy kan waarskynlik ‘n begroting uitwerk wat meer geld per maand in jou sak sal laat.

Wanneer ‘n mens na ‘n nuwe omgewing verhuis het, kan die huur van ‘n huis jou tyd gun om die omgewing en gemeenskap eers te leer ken alvorens jy ‘n huis koop. Die kostes by huiskoop is nie net die verbandpaaiement nie, maar ook heffings, belastings, versekering, water en elektrisiteit, onderhoud en herstelwerk of verbeterings wat nodig mag wees.

Die beste finansiële skuif wat jy kan maak is om jou verband so gou as moontlik af te betaal. Met ‘n addisionele 20% byvoeging tot jou verbandbetaling sal jy jou huis binne 12 tot 13 jaar afbetaal pleks van eers oor 20 jaar.

Dit is wys om 1% tot 3% van die waarde van jou huis jaarliks op sy te sit vir onderhoud en herstelwerk. Groter uitgawes soos daklekke regmaak, huisverf of teëlwerk kan groot uitgawes teweegbring. Indien jy wel huisverbeterings aanbring, moet dit verbeterings wees waarvan jy die voordele sal oes die dag as jy weer die huis moet verkoop. ‘n Ekstra badkamer mag meer werd wees as ‘n ingeboude braai.

Die waarde van ‘n huis word grootliks beïnvloed deur die ligging daarvan, asook die waarde van ander eiendomme in die onmiddelike omgewing.

Dit is finansieel slim om die toepaslike versekering uit te neem om jou grootste bate te beskerm. Buiten huiseienaarsversekering, verband- en huisinhoudversekering moet jy jouself afvra wat sal gebeur die dag as jy ongeskik raak en jou werk verloor of te sterwe kom. In dié gevalle behoort voorsorg getref te word vir jou gesinslede.

Die belangrikste wenk is dat ‘n mens, of jy nou koop of huur, nie oorhaastig moet wees nie en geduldig moet bly uitkyk vir die regte opsie.

Tot volgende keer, groetnis

Koos de Wet

* Koos de Wet , ‘n finansiële beplanner by PSG, is lid van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika. Kontak hom by 015 491 2020/082 881 4672 of psgk@mweb.co.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button