Juan maak sy merk in die wetenskap wêreld
Juan Krüger (16) het onder die top 50 by Eskom se Ekspo vir Jong Wetenskaplikes geëindig.
POLOKWANE – Juan Krüger (16) het aan Eskom se Ekspo vir Jong Wetenskaplikes by die Internasionale Wetenskaplike Skou in Boksburg deelgeneem en onder die top 50 uit 100 000 deelnemers geëindig.
Leerders van regoor Suid-Afrika asook van lande soos Mexiko het ingeskryf.
“Ek het ‘n sonkrag-waterverwarmingstelsel uit herwinbare materiaal gebou,” vertel Juan, ‘n gr. 10 leerder van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé (HTS).
“My teikengroep was landelike gebiede – die stelsel werk slegs met sonkrag.”
Hy verduidelik as die temperatuur buite 25° C is, kan die water tot 47° C verhit word.
Sy idee het gekom nadat hy ‘n taak van ‘n paar jaar gelede van sy jonger broer, Ruan, beloer het. Dié taak het gegaan oor herwinbare produkte en gebruike daarvoor.
“In dié tyd het ons bure gehad wie nog nooit krag gehad het nie. Ek het besluit om iets te bou om hulle te help.”
Die materiale wat hy gebruik het is nie duur nie. Jy het hout, spykers, pype en ‘n emmer nodig asook polistireen vir insulasie. En hoewel sy navorsing en beplanning maande geduur het, neem die stelsel sowat ‘n uur om te bou,” sê Juan.
“Ek self het nie geglo dit kan werk sonder ‘n pomp nie, maar hy het toe my verkeerd bewys,” vertel Karen Krüger, Juan se trotse ma.
Juan het reeds begin beplan aan sy volgende projek – ‘n kragopwekker.



