VF+ maak sy stem dik oor kieserkorrupsie
"Die VF+ het die ANC Dinsdag op heterdaad betrap waar hulle besig was om mense onwettig by die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) se kantore in Mokopane te registreer vir die komende munisipale verkiesing in wyk 32."
MOKOPANE – “Die VryheidsFront Plus (VF+) het die ANC Dinsdag op heterdaad betrap waar hulle besig was om mense onwettig by die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) se kantore in Mokopane (Potgietersrus) te registreer vir die komende munisipale verkiesing in wyk 32,” sê Marcelle Maritz, hooforganiseerder van die VF + in Limpopo.
Maritz sê in ‘n verklaring sy het dadelik die ANC-lede gevra om hul onwettige registrasie van kiesers wat buite die wyk woon, te stop, maar is gedreig.
“Die ANC word gedurig van korrupsie beskuldig en ‘n mens staan verstom dat hulle dit sommer so openlik doen.
“Baie van die mense wat in die Onafhanklie Verkiesingskomissie (OVK) se ry gestaan het om te registreer vir die verkiesing, het later verdwyn toe Matome Maponya, ‘n OVK amptenaar, hulle daarop gewys het dat dit ‘n kriminele oortreding is.
“Hierna het die ANC lede aggressief geraak en ernstige dreigemente aan die VF+ verkiesingspan gemaak.”
Maritz sê die VF+ het dadelik ‘n saak by die polisie aangemeld en ‘n verdere klag by die OVK se provinsiale en nasionale kantore gelê.
“Ons gaan nie toelaat dat die korrupsie voortgaan nie. Ons gaan elke huis besoek en sorg dat daar geen ongemagtigde persone aan die tussenverkiesing deelneem nie,” het Maritz sterk afgesluit.
Bosveld het gaan aanklop by die OVK se kantore, maar niemand wou kommentaar op Maritz se verklaring lewer nie.
“Be assured that the IEC in Limpopo is in the process of conducting investigations on this case and all parties including the Local PLC will be briefed once all investigations are concluded,” lees ‘n e-pos vanaf die OVK in Limpopo wat aan Maritz gestuur is.




