Jas Hansen het ‘n ongelooflike passie vir kinders. Hy is ook ‘n goeie organiseerder en het die skool toeganklik gemaak vir die gemeenskap, sê Jaco van der Wateren, ‘n vriend van Hansen en oud-voorsitter van die skool se beheerligaam.
Hy wys daarop hoe Hansen dit deur die jare reggekry het om in die leerders se harte te kruip. “Leerders wie selfs al 15 jaar gelede klaargemaak het met skool kom steeds terug na hom toe en dit is nie net die sterk of uitblinkkinders nie.
“Jas het die vermoë om elke kind spesiaal te laat voel. Hy het selfvertroue by kinders ingeboesem en hulle op ‘n pad gesit want hy gee om. Jas is ‘n beginselvaste mens wie weet wat hy wil hê. Hy kan organiseer en is gedrewe en sy lojaliteit teenoor sy personeel het uitgestaan.”
Van der Wateren sê dit is deur Hansen se toedoen dat die skool die bymekaarkomplek vir die gemeenskap is. Hy onthou hoe Hansen dit beklemtoon het dat Piet Pot die kern is waar alles op die dorp gebeur. “Hy het met reg gesê Thabo Mbeki- en Geyserstraat is die belangrikste hoek op die dorp.”
Louis Cangueiro, voorsitter van Hoërskool Piet Potgieter se beheerliggaam, sê dit was ‘n groot voorreg om onder Hansen se leierskap te kon dien. “Ek het baie by hom as leier geleer.”
“Ek sal hom onthou vir sy enorme bydrae as skoolhoof en gemeenskapsleier. Hy is ‘n ikoon op ons dorp wie met harde werk, deursettingsvermoë, inisiatiewe en geloof die skool tot groot hoogtes aangevoer het.



