Bosveld NewsNews

Onderwys loop beslis dik deur Hansen-familie se are

Onderwys is beslis in die bloed van die Hansen-familie. Nie net is dit Jas wat die septer by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) swaai nie, maar sy broer, Mauritz, is die afgetrede skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom. Mauritz vertel nog ‘n broer wie reeds oorlede is, Wynand, was vir jare onderwyser by onder meer Hoërskool Pietersburg …

Onderwys is beslis in die bloed van die Hansen-familie.

Nie net is dit Jas wat die septer by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) swaai nie, maar sy broer, Mauritz, is die afgetrede skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom.

Mauritz vertel nog ‘n broer wie reeds oorlede is, Wynand, was vir jare onderwyser by onder meer Hoërskool Pietersburg en Ben Viljoen. Daar is ook ‘n ouer suster wie ‘n oud-onderwyser is. Sy woon in Pretoria en Mauritz se dogter, Angelique Smith, is ‘n onderwyser by HPP.

Jas is op 27 November 1950 gebore en het as een van vyf kinders op Mookgophong grootgeword. Hy het na skool aan die Normaal Kollege in Pretoria (NKP) gestudeer voordat hy in die klaskamer sy liefde vir geskiedenis met die leerders gedeel het.

Op 10 Oktober 2012 het Jas ‘n gedenkplaat by die Wynassiedam by Die Oog aftree-oord onthul. Jas en sy broer, Wynand, het die dam wat na hulle vernoem is, in 1972 gebou. Die ontwikkelaars van Die Oog het dit goedgedink om die gedenkplaat op te rig om toekomstige geslagte te herinner aan die geskiedenis van die dam.

Mauritz en Jas deel ‘n liefde vir rugby en die gewilde Hansie-skole Rugbyweek wat jaarliks op Mookgophong gehou word, is juis na Mauritz vernoem. Dit was vanjaar vir Jas ‘n riem onder die hart om te sien hoe goed HPP se rugbyspanne doen. Die skool het sy rugbyseisoen vanjaar aan Jas opgedra met die eerstespan en die o/15’s wat in die eindstryd van die Beeldtrofee vir mediumskole gespeel het. Die 0/14-span is vanjaar se Limpopowenner.

Jas se vrou, Julie, is in 2009 oorlede. Hulle het twee dogters, Berdine en René, en Jas is die trotse oupa van twee kleinkinders, Juan en Jillian. In sy vrye tyd geniet hy dit om te jag en in bosveldnatuur tussen sy beeste te wees.

Mauritz sê hy gaan met Jas se afskeid op 27 November meer vertel oor hulle grootword- en jeugjare en wil nie nou al die aap uit die mou laat nie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button