Ouer garde groet, sê ook totsiens en salueer vir Jas Hansen
Hoërskool Piet Potgieter verloor nie net sy skoolhoof aan die einde van November nie, maar ook 'n handvol onderwysers wat vir jare saam met Jas Hansen trotse Pottiekaners was.
Hoërskool Piet Potgieter verloor nie net sy skoolhoof aan die einde van November nie, maar ook ‘n handvol onderwysers wat vir jare saam met Jas Hansen trotse Pottiekaners was.
Johan Meissenheim en Jan Kruger het reeds die tuig neergelê en aanstaande jaar groet James Steele en Johan van der Merwe.
Meissenheimer, beter bekend as mnr. Meiss, deel die volgende brief met Bosveld se lesers:
“Jas is aan my bekend vir die afgelope dertig jaar, nie net as kollega nie maar ook as goeie vriend. Ons is in 1996 saam aangestel as deel van die Limpopo Department van Onderwys se eksamenafdeling, hy as eksaminator van geskiedenis en ek as interne moderator van lewenswetenskappe waar ons tot 2012 diens gedoen het.
“Sowat drie jaar gelede het ons met waardegedrewe onderwys by ons skool begin onder Jas se leiding.
“Die letters van die waardes was uitgebeeld as ‘N LEIER’ waarvan die ‘N’ vir nalatenskap staan, ‘L’ vir lojaliteit, ‘E’ vir empatie, ‘I’ vir integriteit, die ander ‘E’ vir excellence en die ‘R’ vir respek. Jas was nog lank voor hierdie poging van die skool al ‘n sprekende voorbeeld van al hierdie waardes. Personeel en leerders het juis daarom baie respek vir hom gehad.
“Waar hy nou gaan aftree verloor die skool en die departement ‘n groot onderwysman.
“As oud kollega en vriend wil ek hom graag salueer vir uitstaande diens gelewer in die skool sowel as in die gemeenskap en mag al sy drome van ‘n rustige aftrede bewaarheid word.”




