Jas trek binnekort nuwe baadjie aan maar bly in kring
Die kaptein en stuurman van Hoërskool Piet Potgieter se skip sê binnekort koebaai om 'n nuwe reis in' n ander rigting aan te pak.
MOKOPANE – Die kaptein en stuurman van Hoërskool Piet Potgieter se skip sê binnekort koebaai om ‘n nuwe reis in’ n ander rigting aan te pak.
Wanneer skoolhoof, Jas Hansen, op 30 November sy kantoordeur vir oulaas toetrek kan hy terugkyk op ‘n lang loopbaan in die onderwys en ook met reg soos Frank Sinatra sê: I did it my way.
Dit is altyd moeilik om totsiens te sê vir ‘n persoon wie diep spore in ‘n gemeenskap getrap het, maar die wete dat Hansen opgewonde uitsien na nuwe uitdagings in sy aftreejare en steeds deel van die dorp en sy mense gaan wees, maak die groetslag makliker.
Vanjaar is Hansen 38 jaar in die onderwys waarvan 11 jaar as hoof van Hoërskool Piet Potgieter en hy gaan verseker gemis word. Op die skoolterrein snoer hy vir jare met die nodige orde en dissipline die personeel en leerders as ‘n hegte eenheid saam wat die skool tot groot hoogtes aangevoer het.
As skoolhoof dwing hy respek af. Dit begin sommer vroegoggend wanneer hy die vierkant binnekom vir opening saam met die leerders. Of hy nou agter die mikrofoon inskuif in die vierkant, skoolsaal, langs ‘n sportveld of selfs in die kerk, daar word altyd met ontsag na hom gekyk en geluister.
Hansen sal gemis word langs die sportvelde waar hy jare lank deel was van die opwinding, glorie en ook hartseer wanneer ‘n skoolspan die knie moes buig. Die losie op die rugbyveld is vroeër vanjaar heel gepas na hom vernoem want dit is hier wat hy vir baie jare gesit en kyk het hoe ‘n menigde leerders op die sportveld uitblink.
Onder sy hoofskap is daar talle bome op die skoolterrein as nalatenskap geplant. Lojaliteit is sy lewensleuse en die lewe is te kort om te stry oor nietighede, het hy vroeër vanjaar aan Bosveld gesê. Hansen is ‘n ware rolmodel vir die skool se waardestelsel – nalatenskap, lojaliteit, integriteit, respek en uitnemendheid.
Sy tyd raak min noudat hy in die pylvak van sy laaste “40 days” is, maar hy vertel daar was oorgenoeg hoogtepunte en goeie dinge waaroor hy meer sal uitwei tydens sy afskeidsfunksie op 27 November. “Tot dan werk ek nog elke dag nog voluit.”
Hy voeg blinkoog en met dankbaarheid by dit was al die jare ‘n spanpoging van almal wat betrokke was by Piet Pot wat gesorg het vir die vooruitgang en sukses.
Wanneer Hansen einde aanstaande maand groet, verloor die dorp ‘n passievolle onderwysman en dinamiese leier wie baie lewens verryk het. Afskeid is ‘n hartseer gedoente, maar om te laat gaan is ook deel van menswees en groei.
Terwyl Sinatra sing…and now the end is near: And so I face the final curtain… wens Bosveld hom alle seën op sy lewensreis toe.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za




