Met plaasmoorde in kollig, bal AfriForum vuis
Bosveld het 'n paar lesers genader rakende die stygende getal plaasaanvalle
LIMPOPO – “Die bank bel, die köoperasie sê my rekening is vol en ‘n landboutydskrif berig die grootste El Nino in 100 jaar word waargeneem. Die plaaslike koerant berig van nóg ‘n plaasaanval. By die howe bal ons vuiste, by die graf staar ons strak en in ons binnekamers huil ons woedend in die na-nag. By buurman se graf lê vier geslagte wie met sweet, rondrol, verbande en baie gebede erfplase opgebou het. Plaaskinders het dokters, dominees en sakemanne geword maar in hul wese plaaskinders gebly.
“Plase is wie ons is, dit definieer ons, anker families en is nie bloot ‘n besigheid soos ‘n kafee nie. Ons aanvaar rentmeesterskap en sal dit met ons lewens beskerm. Laat die wat ore het, dit hoor! Ons wil nie gereduseer word tot statistieke en ‘n onderskrif op die TV-nuus nie. Ons wil nie toegetralie wees en agter alarms skuil nie. Ons wil kos voorsien, werk verskaf, kinders grootmaak en oud word op die familieplaas se stoep. Is dit te veel gevra?”
Hierdie is die aangrypende woorde van ‘n boer nadat nog ‘n familie onlangs die teiken van ‘n plaasaanval in Limpopo was.
Bosveld het ‘n paar lesers genader rakende die stygende getal plaasaanvalle.
Vossie Vosloo van die Spoorsnyers sê: “Die mate van geweld is astronomies. Om presies te peil wat die rede vir die aanvalle is, is moeilik, maar in my opinie gebaseer op die wreedheid daarvan en die feit dat in meeste gevalle slegs ‘n selfoon gesteel word, neig dit na terrorisme. My raad is eenvoudig: boere moet inskakel by hulle plaaslike landbou-unies en plaas – en buurtwagte. Installeer alarms, want met ‘n druk van ‘n knoppie reageer ‘n menigte op jou nood. Dit is van kardinale belang dat jy nie in die nag alleen ‘n verdagte situasie ondersoek nie. Bel die plaaswag, polisie of bure om saam ondersoek te gaan instel.”
Adri Barnard, voorsitter van die Rooikatteplaaswag, sê: “Die rede waarom hierdie aanvalle toeneem is omdat die verdagtes weet hulle gaan daarmee wegkom. Die kriminele is eenvoudig nie meer bang vir die gereg nie.”
Haar raad aan die gemeenskap is: “Boere moet paraat wees, weet wat op hulle plase aangaan. Kommunikasie met jou werknemers is ook uiters belangrik. In die Mokopane-omgewing alleen is daar minstens vier plaas- en buurtwagte – skakel by hulle in!”
“AfriForum het November as ‘n nasionale maand van protes teen plaasmoorde verklaar. Gedurende die maand sal verskeie aksies van stapel gestuur word wat daarop toegespits is om internasionale druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om plaasmoorde te prioritiseer,” lees ‘n mediaverklaring van AfriForum.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, verduidelik dit is op 1 Desember presies vyf jaar sedert die Potgieter-gesin wreedaardig op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is.
“Hoewel die regering die moorde op dié gesin in die media betreur het, is dit egter duidelik plaasmoorde is geensins ‘n prioriteit vir die polisie nie,” sê Roets.
“Sedertdien is honderde boere op hul plase vermoor, sommiges op die mees gewelddadige wyse denkbaar. As die regering en die departement van polisie die probleem aflag, sal ons seker maak dat hulle in die internasionale arena hieroor in die verleentheid gestel word.”
In die komende maand sal AfriForum die volgende relevante aksies aanpak: Die Hooggeregshof sal genader word vir ‘n bevel om die polisie te dwing om sy statistiek oor plaasmoorde te publiseer en die metodologie bekend te maak wat gebruik word om dié statistiek in te samel. Dít volg nadat die voormalige nasionale polisiekommissaris in die afgelope jaar by twee geleenthede na plaasmoorde verwys het, maar teenstrydige syfers gegee het. AfriForum het ook reeds geregistreer om die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in die laaste week van November oor plaasmoorde toe te spreek.
‘n Verslag, wat spesifiek fokus op die wyse waarop daar in die strafregstelsel teen plaasaanvalslagoffers gediskrimineer word, sal ook by die VN ingedien word. Hierdie verslag sal aan meer as 300 internasionale en buitelandse mediakorrespondente in Suid-Afrika versprei word.
Op die dag waarop die voorlegging aan die VN gemaak word, sal die verslag aan meer as 5 000 buitelandse media-instellings uitgereik word. Op 1 Desember sal AfriForum saam met slagoffers van plaasaanvalle ‘n mosie van wantroue in die regering se vermoë om plaasaanvalle te beveg by die president se kantoor indien.
AfriForum doen ‘n beroep op die publiek om hulle name by AfriForum se protesbrief te voeg. In die aanloop tot die VN-konferensie sal AfriForum met ‘n omvattende veldtog begin om steun vir dié memorandum te werf.
“Hoe meer mense hulle name by die veldtog voeg, hoe sterker sal ons stem wees en hoe groter ons kans op sukses,” sê Roets. AfriForum wil die verslag aan die VN versterk met minstens 100 000 name van die publiek wat die saak steun. Om steun daarvoor te wys, kan die publiek die webwerf www.stopdiemoorde.co.za besoek of hul naam SMS na 32534 teen R1.




