Bosveld NewsLettersNewsOpinion

‘Bly positief en voorsien land van kos’

Ockert Scherman, voorsitter van die Potgietersrus Distrik Landbou-unie (DLU), het onlangs die unie se jaarverslag opgesom en deel dit met Bosveld se lesers.

Ockert Scherman, voorsitter van die Potgietersrus Distrik Landbou-unie (DLU), het onlangs die unie se jaarverslag opgesom en deel dit met Bosveld se lesers…

“Die jaar 2015 het vir baie boere groot uitdagings gebied. ‘n Menigte boere meen hulle moes nog iets op die kantlyn aandurf om te kan oorleef, want insette word maandeliks duurder met ‘n stygende belastingkoers vanaf die regering.

Dienste word al hoe swakker en ons kry geen terugvoering van die regering se kant nie. Ons sal in die komende jaar meer moet doen om hulle samewerking te kry, want dit is moeilik om vir maande te wag op navrae rondom ons rekeninge wat nie in plek is nie.

Dit was ‘n redelike gemiddelde seisoen met min reën, van die produkte se pryse het ‘n bietjie gestyg teenoor laas jaar hierdie tyd, maar die Rand is swakker en dit bly steeds ‘n probleem.

TLU SA het ‘n groot en suksesvolle kongres gereël op 1 en 2 September. Daartydens het die president, Louis Meintjies, in sy presidentsrede, eiendomsreg onder die soeklig geplaas en gesê: ‘Laat ons net eers begin met die volgende stelling: ons glo ons is hier geplaas met ‘n doel.

Die boer sit al meer as drie eeue lank kos op die tafel vir die land. Ons het gekom om te bly en ons gaan nêrens heen nie. Ons het nie ons grond gesteel nie en daarom is dit ons grond. Dit is die vryemarkbeginsel, en die reg op private besit wat ons as ononderhandelbaar beskou. Dit is die resep van voorspoed wat ons nastreef. Dit staan lynreg teenoor die sosialistiese rigting wat tans deur die bewindhebbers ingeslaan word.’

Werner Weber het ook ‘n boek saamgestel rakende die wyse waarop die grond in SA verkoop is en belangstellendes kan die boek by die DLU se kantore koop.

Op die bekende radiostasie, RSG, het ek onlangs gehoor die EFF wil die tweede vers van die volkslied skrap en dat hulle grond eis, maar nie daarvoor wil betaal nie. Ek bly by my standpunt dat alle boere hulle grond wettiglik gekoop het.

Duisende hektaar in die DLU is in puin gedompel tydens verwoestende veldbrande gedurende die jaar. Die boere het onlangs dag en nag teen die vlamme geveg, maar die bergterrein het die stryd bemoeilik. Gevolglik is groot skade onder meer aan voertuie, weiding en lodges aangerig. ‘n Hoogtepunt is goeie samewerking wat gelei het tot die arrestasie van ‘n brandstigter.

Nóg ‘n rede tot kommer is die feit dat grondeienaars in die toeseisoen blokbrande maak. Ek wil die lesers verseker ‘n permit van die departement in ons gebied is nie alleenlik geldig nie en toestemming moet vanaf die Fire Protection Association (FPA) verkry word.

Die boswet en FPA se reëls loop hand aan hand. Te veel grondeienaars se brandbane is nie in plek nie.As voorsitter van die FPA bedank ek die boere asook die gemeenskap wat nie skroom om te help vure blus nie.

Inbrake op plase is steeds aan die orde van die dag en ek vra dat alle misdade aangemeld moet word en ‘n saaknommer verkry word.

Die boeregemeenskap het dit goedgedink om ‘n noodvoertuig wat tot diens van sy lede kan wees, op die grond te sit. Baie dankie aan elkeen wie bygedra het om dit moontlik te maak.

Potgietersrus DLU het weer deelgeneem aan die Windpompfees en 2 050 hamburgerpatties is op een pan gebraai, wat ten volle deur die boere geniet is. Die DLU spog ook met ‘n baie suksesvolle gholfdag wat by die Kameeldoring Gholfklub aangebied is. Hiermee dan weereens ‘n woord van dank aan al die insetverskaffers en spelers. Die pryse was van hoogstaande gehalte en elke speler het die dag geniet.

Baie dankie aan al die boereverenigingvoorsitters en al die boere vir hulle insette gedurende die jaar. Kom ons bly positief en voorsien die land van voedsel.

Dankie ook aan Renita Prinsloo, DLU sekretaresse, vir haar getroue werk.

Die Potgietersrus DLU is gedurende die TLV SA Kongres as die DLU van die Jaar gekroon en Crecy Boerevereniging is aangewys as Boerevereniging van die Jaar.

Steven Vermaak is verkies tot Noordstreek se voorsitter en is aangewys as TLU SA se Landboupersoonlikheid van die Jaar.

Ek wens elke leser ‘n geseënde Kersfees en voorspoed vir 2016 toe. Geniet die feesseisoen saam met u familie. Lees gerus weer Psalm 23. Dit laat ons opnuut besef dat ons hulp afkomstig is van Hom wat alles instand hou en nooit die werke van sy hande laat vaar nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button