Bosveld NewsNews

NG-lidmate krap nog kop oor gays

Soos in enige ander gemeenskap is daar ook homoseksuele mense in Mokopane wie geraak word deur die onlangse besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk dat gays voortaan dieselfde voorregte as ander lidmate in dié kerk mag geniet.

MOKOPANE – Soos in enige ander gemeenskap is daar ook homoseksuele mense in Mokopane wie geraak word deur die onlangse besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk dat gays voortaan dieselfde voorregte as ander lidmate in dié kerk mag geniet.

Met die sinode se waterskeidingsbesluit is onder meer herbevestig dat ‘n huwelik tussen een man en een vrou is, maar dat burgerlike verbintenisse tussen gay mense in die kerk bevestig kan word deur predikante wie “hulle weg oopsien” om dit te doen.

Ds. Peet Venter, leraar van die NG Oosgemeente, sê die leraars van die Ring van Piet Potgietersrus het kennis geneem van die sinode se besluite oor selfdegeslagverbintenisse. “Ons as ringleraars is bewus dat die besluite oor selfdegeslagverbintenisse vrae na vore geroep het oor veral twee sake, naamlik: hoe lees ons die Bybel want gelowiges wat dieselfde tekste lees kom dan tot verskillende gevolgtrekkings en hoe hanteer ons diversiteit van menings oor sake soos hierdie binne een geloofsgemeenskap.”

“Die leraars roep derhalwe ons kerkrade en gemeentes op om luisterend en lerend steeds biddend die Here se wil te soek in die teenwoordigheid van medegelowiges en die Here onder die leiding van die Heilige Gees.

“Laat ons geduldig en in Christusliefde met mekaar omgaan in ons gesprekke hieroor. Ons versoek ons kerkrade om veilige ruimte te skep vir gesprekke hieroor en onsself te weerhou van veroordeling van mekaar en van oorhaastige en soms emosionele besluitneming.”

Hy wys daarop dat die leraars hul deernis uitspreek teenoor homoseksuele lidmate omdat dié gesprekke hulle blootstel en hulle menswees intens raak.

‘n Ope debat is na die sinode besluit in die NG Hulp en Hoop Gemeenskapskerk gehou waar lidmate hulle menings vrylik kon lig oor die sinode se besluit. Die verskeie standpunte het wye reaksie uitgelok. Verlede Sondag het lidmate ‘n kort brief met die inligting soos bo uiteengesit ontvang.

Lidmate word ook aan die einde van die brief aangemoedig om met die leraars in gesprek te tree indien enige onduidelikheid bestaan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button