Sit jou veiligheidsgordel aan
KOLLIG: Ons benodig sekere veiligheidsgordels deur ons hele lewe. Een van die belangrikste is die beskerming van inkomste ingeval jy ongeskik vir werk verklaar word.
Ons benodig sekere veiligheidsgordels deur ons hele lewe. Een van die belangrikste is die beskerming van inkomste ingeval jy ongeskik vir werk verklaar word.
Dié behoefte gaan nooit weg nie en is altyd die eerste een wat gedek moet word. Trouens, dit behoort een van die eerste polisse te wees wat jy vir jou kinders uitneem. Dié veiligheidsgordel bestaan inderwaarheid uit twee dele.
Die eerste deel is gesetel in enkelbedragvoordele wat uibetaal indien jy ongeskik verklaar word en wat die koste van mediese sorg, rehabilitasie en ander uitgawes dek. Die tweede deel is ‘n maandelikse inkomstevoordeel wat jou toekomstige inkomste vervang.
As jy trou, is die beskerming van jou gade se inkomste by sy of haar dood belangrik en is lewensdekking op jou gade se lewe ‘n veiligheidsgordel wat jy benodig. (Lewensdekking op jou lewe is nooit ‘n veiligheidsgordel vir jouself nie.) Daarom is dit belangrik om seker te maak dat jy die polis op jou gade se lewe uitneem en seker maak dat dit elke maand betaal word. Bereken wat die inkomste van jou gade is wat jy sal verloor met ongeskiktheid, maar ook watter inkomste jy sal verloor met jou gade se afsterwe. Die verlies van ‘n gade se inkomste word dikwels onderskat.
Namate jy ouer word, is ongeskiktheidsdekking en lewensdekking al minder belangrik, want, soos reeds genoem, is hul taak die beskerming van ‘n inkomste. Nou raak jou spaarplanne al belangriker; dit wat jy benodig om vir jou kinders se studies te betaal en dit waarvan jy met jou aftreebeplanning wil leef.
Om ‘n aanduiding te gee van die omvang van aftree-voorsiening: Jy benodig op 60 minstens R1 000 000 vir elke R4 000 se maandelikse inkomste as jy nie bekommerd wil wees hoe jy oud raak nie. Maar jou inkomsteproduserende bates het ook beskerming nodig. Dit is verbasend hoe min mense genoeg korttermyn-beskerming het. As jy ‘n voertuig gebruik om by die werk te kom, gaan dit jou lewe ernstig bemoeilik as dit afgeskryf word. Dit gaan weer jou inkomste in die gedrang bring.
Ek kan nog baie uitbrei oor sulke veiligheids-gordels en het verlede week gewys op die inkomste-voorsiening by ongeskiktheid in jou beroepsom-gewing en die wetsbepalings wat voordeel-uitbetalings bepaal en/of uitsluit.
Die belangrikste veiligheidsgordel, myns insiens, is om jou eie inkomste en dié van jou gade te beskerm ingeval een
van julle ongeskik vir werk bevind word.
Daar is verskeie opsies beskikbaar vir elke veiligheidsgordel wat jy wil hê om die verskillende risikos in jou lewe aan te spreek. Moenie wag nie. Beplan tydig. Dit is nooit te laat om jou bestaande risiko voorsiening te hersien en/of uit te brei nie. En as dit te
laat is om aftreevoorsiening behoorlik te beplan – beplan nogtans met die middele tot jou beskikking deur gesonde advies in te win.
Tot volgende keer,
Groetnis,
Koos de Wet
* Koos de Wet is ‘n Finansiële Beplanner by PSG en lid van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika. Lesers kan hom kontak by 015 491 2020 / 082 881 4672 of psgk@mweb.co.za



