Vier broodboomdiewe vasgetrek
Entabeni Wildreservaat se bestuurspan, tesame met hulle anti-stroping eenheid het onlangs vier diewe vasgetrek wat skaars broodbome in die reservaat gesteel het.
MOKOPANE – Entabeni Wildreservaat se bestuurspan, tesame met hulle anti-stroping eenheid het onlangs vier diewe vasgetrek wat skaars broodbome in die reservaat gesteel het.
In ‘n mediaverklaring vertel Mart Cilliers van Legend Hospitality group: “Die voorval het onder die bestuur se aandag gekom nadat die reservaatbestuurder, Jan Lessing, spore gevind het wat deur die reservaat se grense loop. Entabeni se anti-stroping reaksiespan, onder leiding van Tommie Pienaar, het gehelp spoorsny en sewe broodbome wat langs die Marken-pad weggesteek was gevind.
Hulle het die area fyn dopgehou en die Mookgophong polisie in kennis gestel nadat ‘n voertuig gestop het om die broodbome op te laai. Die Entabeni-span het sake in eie hande geneem en die boosdoeners se voertuig agtervolg. Die stropers het ‘n ongeluk naby die T-aansluiting by Mookgophong gemaak na afloop van ‘n hoëspoed-jaagtog. Die reservaatbestuur en anti-stroping eenheid het die diewe aangehou todat die polisie opgedaag het en die drie verdagtes in hegtenis geneem het.
Die verdagtes het intussen in die Mookgophong hof verskyn in verband met die stroping van sewe broodbome.
Na raming beloop die totale waarde van die bome sowat R100 000.
Die saak is verwys na die streekhof en die beskuldigdes is nog in aanhouding. Die stroping van die skaars Eugene Maraisii broodbome is ‘n ernstige probleem en Entabeni Wildreservaat doen alles in hul vermoë om die enkele broodbome wat nog in die natuur voorkom te bewaar. Entabeni beywer hulle dus om groter bewusmaking onder die publiek te kweek sodat skaars broodbome vir die nageslag beware sal bly.




