Bosveld NewsNews

Onder die Bosveldson broei snaaksighede daagliks uit

REDAKTEUR SE INK: Never a dull moment hier op die dorp.

Ons loer elke oggend as ons opstaan hoopvol boontoe opsoek na grougrys wolke wat sê die groot reën is oppad. Die hemelse water wat mildelik moet neerstort en nie net die versengende hitte moet breek nie, maar die grond behoorlik moet natmaak daar waar die boere geplant het.

Bidure vir reën word gehou en tussendeur verkoop van die boere hulle vee vir ‘n appel en ei op veilings want daar is nie meer uitkoms nie. Die wie weet sê ons moet ons regmaak vir ‘n maer feesseisoen want vleis en groentepryse gaan oor die Kersgety skaars en onbekostigbaar vir die gewone man op straat wees.

Hier in die vroeë oggendure van Woensdag het die druppels begin neerplons en kon ons met dankbare harte die nattigheid saam met ‘n nuwe dag groet.

So met die onweerswolke in die lug is daar vandeesweek groot hartseer oor ‘n pragtige jong vrou en ma van ‘n klein seuntjie wie haar lewe verloor het in wat amper beskou kan word as ‘n fratsongeluk. Daar is ook weer verlede naweek geplunder en geroof terwyl ‘n gesin in vrees op die grond in hulle huis in Kameeldoringpark gelê het met gewere teen hulle koppe.

Op ‘n positiewe noot kom vertel twee reaksie-offisiere van Suricat trots hoe hulle ‘n rooftog by ‘n hoendereetplek gestuit het en ek wonder wat van my hoendertjie geword het.

Die bruin enetjie wat in die oggende in die hoofstraat loop en skrop het voor ‘n ander hoendereetplek wat aan die bokant sê: Fly Thru. Is die hoenderjie pot toe? Ek wou hom spaar en in my kar se gat laai. Die gat links voor waar die lig weg is. Dit is daar waar ‘n koedoe my kar ‘n ruk terug getref het, maar nou is dit reggemaak.

Terwyl ons Maandag-middag die seerkry-stories bymekaar trek kom ‘n anderse stoet met groot fanfare verby. Dit is die ANC wie met toeters, geraasmusiek en enorme luidsprekers wat swaarder weeg as diegene wat agterop die bakkies sit, vir oulaas mense in Wyk 32 aanmoedig om vir hulle kandidaat te stem.

Kort daarna volg die Vryheidsfront Plus se drie motors. Marcelle Maritz wuif agter die toe venster soos ‘n koninlike. Die DA is vandag stil nadat hulle groot lawaai opgeskop het in hulle fancy rygoed verlede naweek. Hulle kandidaat, Yolandé Coetzee, hou nie van ‘n moddergooiery nie en maak eerder saam met die party se lede die strate en dakke skoon. Sy los die politieke praatwerk vir die dorp se groot DA-kokkedoor en parlementslid, Beyers Smit.

Dit gaan ‘n interessante munisipale verkiesing wees – gaan dit ‘n geval wees van twee honde baklei oor ‘n been en die derde loop daarmee heen?

Never a dull moment hier op die dorp.

Lees ‘n mens al die sêgoed op Facebook is dit die oor en weer Bybelverse en aanhoudende gebruik van die Here se naam om die partye of kandidate se sake te probeer bevorder wat opval. Die een ‘n groter Christen en gelowige as die ander.

n Mens kan ook nie die magdom spelfoute miskyk nie. Terwyl die VF+ se ondersteuners vir die Afrikaner se regte baklei draai hulle die Afrikaanse taal behoorlik nek-om.

Vra ek vandeesweek op my blad hoekom kan ons Afrikaners nie meer reg spel nie, lok dit wye reaksie uit. Woorde soos “waardeur” peks van waardeer en “vuiligheid” in die plek van veiligheid. Om nie van “koplyse” en “neute” (kopluise en nete) te praat nie.

Hier is van die kommentaar:

Lida Genis: Ek deel jou frustrasie. ‘n Ander ding is dat hoofletters nie meer gebruik word nie by name, dae van die week, ens.

Estelle Hartzenberg: Ek stem saam dit is ‘n groot fustasie om Facebook-inskrywings van nie-spellers te lees.

Kieron van der Merwe: Tegnologie is die oorsaak van baie dinge in die lewe.

Lara Lourens: Ek dink dit is omdat mense ophou lees het en wat my die meeste onderkry: mnSe Wt sO spEl dt mEnS ni kN lEeS ni n dNk hLe is bJe ouWlik.

Annatjie van Biljon: Ons is gefoeter om reg te spel en ons taal suiwer te gebruik. Met my het dit nogal gewerk, ek het baie respek vir onderwysers gehad.

Katryn Mt’joie: Dit is verstommend hoe lelik mense raak wanneer iemand hulle aanvat daaroor. Die aanvat is gewoonlik mooi, maar dit word met geweldige aggressie beantwoord. Dit is glo nie meer van belang dat ‘n onderwyser korrek hoef te spel nie.

Jolandi Fourie: Ek verstaan ‘n agterlosige tikfout, maar wanneer iemand skryf ” ek het vanoggend my dogter/pa/ma veras” pleks van verras word die verkeerde gevolgtrekking gemaak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button