Tragiese ongeluk eis lewe van geliefde jong ma (21)
Medelye stroom op Ada Deacon se Facebookblad in...
MOKOPANE – “Ons weet dit was ‘n tragiese ongeluk en neem niemand kwalik nie. Ons mis ons liefiekind reeds ongelooflik erg,” sê Chrissie Oosthuizen gebroke aan Bosveld nadat haar dogter, Ada Deacon, Saterdag in die vroeë oggendure in ‘n ongeluk dood is.
Die ongeluk het gebeur minder as ‘n maand na Ada se 21ste verjaarsdag. Na bewering het Ada en haar boesemvriend, Fritz Schenker (26), verlede Saterdagoggend na die Voortrekker Hospitaal gehaas met hulle vriendin, Gwanita Joubert (22) wie ‘n asma-aanval gekry het.
Oppad het Schenker na bewering beheer oor die motor in Fouriestraat verloor nadat die voertuig vermoedelik ‘n dip in die pad getref en toe gerol het.
“Ada het aan haar beserings beswyk en die nooddienste moes meganiese kake gebruik om Schenker uit die wrak te sny. Schenker en Joubert is na die hospitaal gehaas,” sê konst. Irene Masingi, woordvoerder van die Mokopane polisie.
Schenker sterk tans in die Mediclinic Limpopo in Polokwane aan en Joubert is reeds tuis.
“Dit was ‘n ongeluk en niemand kan kwalik geneem word nie. Ada was geliefd, ‘n wonderlike kind en ongelooflike ma. Woorde kan haar nie beskryf nie,” vertel haar ma terwyl Ada se seuntjie, Alex (1 jaar en sewe maande), alles om hom met sy groot blou oë bestudeer. “Hy het haar oë,” sê sy hartseer.
“Ons was verskriklik lief vir Ada, sy was soos ‘n dogter vir ons en ‘n sussie vir ons kinders. Ons hele familie is in rou gedompel en mis haar reeds baie,” sê Tina Phipps, ma van Ada se hartsvriendin en boesemvriend. “Ada was ‘n pragtige kind, vol liefde en lag,” sê Karin Farrell, die ma van een van Ada se vriendinne.
video via Louise Gezorke Facebookblad
Medelye stroom op haar Facebookblad in
Haar sussie, Louise Gezorke, skryf: “Al die deure was toe maar die Hemel was oop. Ek mis jou my sussie. Ek is dankbaar vir die tyd wat Liewe Jesus jou vir my geleen het. Jy is my ander stukkie crazy.”
Ada se man, Ruan Deacon, skryf: “Jy was en sal altyd my baby girl bly. Ek en Alex mis jou. Ons twee sal jou altyd lief hê my grootoog. Liefde, jou hubby.”
Bosveld betoon sy medelye aan die familie, haar man en vriende in hierdie moeilike tyd.




