Oosskool vereer Lenize Potgieter,netbalster só
Lenize se oud-laerskool het 'n netbalbaan na haar vernoem as erkenning vir haar prestasies op netbalbane, plaaslik en oorsee.
POLOKWANE – In gr. 3 is ‘n mens op die vooraand van tienerwees en jong meisies begin droom…
Dít was ook die geval met die Protea-netbalspeler Lenize Potgieter toe sy vir die eerste keer ‘n netbal-bal vasgehou het en gou besef het dis iets wat sy die res van haar lewe wil doen. Nou het haar oud-laerskool in die stad ‘n netbalbaan na haar vernoem as erkenning vir haar prestasies op netbalbane, plaaslik en oorsee.
Lenize Potgieter
Lenize is ‘n bekende gesig in Polokwane – sy was in die Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) en die eerste vier jaar van haar hoërskoolloopbaan het sy by die Hoërskool Pietersburg spandeer. Daarna is sy na die Hoërskool Menlopark in Pretoria.
“Ek speel al van gr. 3 vir die A-span netbal. Ek het in die hoërskool van 2008 tot 2010 vir die A-span gespeel en in 2011 vir die Hoërskool Pietersburg se eerstespan gespeel. In 2012 het ek vir Menlopark se eerstespan opgedraf.” Na skool het Lenize eers aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) studeer vir een jaar en in 2014 het sy na die Universiteit van Pretoria (Tuks) geskuif waar sy nou besig is met die graad BSportwetenskap.
Sy hoop om in 2016 klaar te maak met haar graad waarna sy in 2017 haar Hoër Onderwys Diploma (HOD) wil behaal.
“By UJ het ek ook vir die eerstespan netbal gespeel en toe by Tuks het ek eers vir die o/21 Tukkie-span gespeel. Daarna is ek gekies vir die Jaguars wie die naaswenner in 2014 was.
“Daarna het ek vir Tuks se eerstespan gespeel en is ek ook by die nasionale Proteaspan betrek. In 2014 speel ek vir die Proteas by die Statebondspele en Netbal Wêreldbeker in 2015,” vertel Lenize.
En die sterspeler se talente is gou wyer opgemerk.
“Ek is gekies om vir TeamBath in die Superleague Season 2015/2016 in Engeland te speel,” vertel sy opgewonde.
Volgens Lenize is haar oefenprogram nie baie straf nie. Sy besoek die gimnasium drie maal per week en het drie aande per week baansessies saam met die span. Dan het sy ook een maal per week ‘n individuele sessie saam met die afrigter.
As erkenning vir haar prestasies op die sportveld het Oosskool onlangs sy netbalbaan na Lenize vernoem. Sy vertel dis vir haar ‘n groot eer en voorreg. Wanneer sy in haar tuisstad is help sy graag met die afrigting van die jonger spelers.
“Ek moet nog ‘n pad stap met netbal – julle sal my verseker nog ‘n paar jaar op die baan sien. Hopelik sal ek eendag in die Australië Nieu-Seeland (ANZ) Liga speel.”
Lenize is tans in die Verenigde Koninkryk V.K. tot Mei volgende jaar waarna sy sal terugkeer om in die Brutal Fruit Netball Cup in Suid-Afrika deel te neem.




