Niels Fröhlich (49) dood in kop-aan-kop botsing
Fröhlich se begrafnis vind Vrydag 27 November vanuit die Pinkster Protestante Kerk in 120 Thabo Mbekirylaan om 14:00 plaas.
MOKOPANE – “N Tragiese ongeluk Saterdagaand in Thabo Mbekirylaan het die lewe van Niels Fröhlich (49), geëis.
Die kop-aan-kop botsing tussen Fröhlich die bestuurder van die motorfiets, en die bestuurder van ‘n Ford Ranger het net na die HF Verwoerd afdraai plaasgevind.
Sers. Irene Masingi, woordvoerder van die Mokopane polisie, sê die oorsaak van die ongeluk is steeds onbekend.
‘n Saak van strafbare manslag is oopgemaak en ‘n deeglike ondersoek word gedoen.
Irelna Snyman, ‘n familielid, sê: “Ons is eers Sondag om 15:00, op Niels se 50ste verjaarsdag in kennis gestel van sy dood.
“Niels het ‘n wagwoord op sy selfoon gehad en dus het die polisie gesukkel om sy naastes in die hande te kry.”
Snyman sê sy wil graag die lesers bedag daarop maak om ten alle tye noodnommers byderhand te hê.
“Wanneer die lewe Niels platgeslaan het, het hy vasberade weer opgestaan en bo sy omstandighede uitgestyg.
Hy was ons kinders se gunsteling oom en ‘n ware voorbeeld van onselfsugtigheid. Hy het gegee selfs wanneer hy nie veel gehad het nie.
“‘n Herinnering wat my altyd sal bybly is Niels het op ‘n tyd nie ‘n voertuig gehad nie, maar dit het hom nie weerhou om Sondae kerk toe te stap nie,” vertel Snyman, hartseer.
Fröhlich se begrafnis vind Vrydag 27 November vanuit die Pinkster Protestante Kerk in 120 Thabo Mbekirylaan om 14:00 plaas.
Die familie sê hy sal gemis word. “Sy plek is leeg, maar dat ons mekaar weer eendag sal ontmoet is verseker!”




