Bosveld NewsLettersNewsOpinion

TLU SA Noordstreek bedank lede vir ‘n besonderse jaar

"Dié jaar is vir ons by die Transvaalse Landbou Unie (TLU) SA Noordstreek 'n besonderse jaar waarvan ons streekkongres 'n hoogtepunt was."

“Dié jaar is vir ons by die Transvaalse Landbou Unie (TLU) SA Noordstreek ‘n besonderse jaar waarvan ons streekkongres ‘n hoogtepunt was.”

Hierdie is die woorde van Steven Vermaak, streekvoorsitter van die TLU SA Noordstreek. Vermaak het die unie se jaarverslag opgesom en deel dit met Bosveld se lesers.

Tydens ons eerste byeenkoms, wat by Elders Boerevereniging gehou was, sê Vermaak, is ons jaarprogram vir 2015 vasgemaak.

Alles het nie noodwendig volgens plan verloop nie, maar daar was ook nie groot afwykings nie. Al die algemene raadvergaderings het plaasgevind en is goed ondersteun.

Blootstelling: Ons het vanjaar besonderse goeie blootstelling in die hoofstroom media gehad. Van radio-onderhoude op plaaslike en nasionale senders tot koerante en tydskrifte wat nasionaal en plaaslik ons mediaverklarings gepubliseer het. Referate en werkwinkels is ook by ander NGO’s gehou waar TLU SA Noordstreek se boodskap beklemtoon was.

Veiligheid: Vroeg vanjaar het ons ‘n Noordstreek veiligheid werksessie aangebied wat talle voete van regoor die streek getrek het. Operasie Ystervuis was ook verskeie kere met groot sukses aangebied. Daar word ‘n aantal operasies beplan vir gedurende Desember en deelname sal waardeer word.

AfriForum se veiligheid inisiatief in Bela-Bela sou nie sonder TLU SA Noordstreek se struktuur die groot sukses behaal het nie.

TLU SA Noordstreek speel ook ‘n leidende rol in die poging van die opposisie partye om plaasaanvalle na die portefeulje komitee oor polisie en veiligheid na die parlement te bring.

TLU Noordstreek het ook die inisiatief geneem om met die polisie se provinsiale kommissaris in gesprek te tree. Die gesprekke sal hopelik in die toekoms buite die Provinsiale Joints, weer vier keer per jaar plaasvind, waar net die polisie en landbou-unies met mekaar in gesprek sal tree.

Die Heritage Protection Group (HPG) is op die been gebring wat TLU SA Noordstreek se veiligheidstrukture gaan bystaan met ‘n hoogs gesofistikeerde ondersoekspan en spoorsnyvermoë.

Plaaslike owerhede: TLU SA Noordstreek het sy struktuur ingespan om die samesmelting van die munisipaliteite tussen Nylstroom (Modimolle) en Naboomspruit (Mookgophong) te keer, ongelukkig teen ‘n onregverdige oormag. Minstens het ons, ons stem laat hoor en ander instansies in die provinsie het kennis geneem dat hulle op die TLU SA Noord struktuur kan terugval.

Verskeie suksesvolle onderhandelinge met plaaslike owerhede het daartoe gelei dat probleme met rekeninge uitgesorteer kon word tot voordeel van ons lede.

Ek moet Erika Helm se werk met Blouberg Munisipaliteit hier noem. Erika Helm en Dawid Maree gaan ons ook bystaan met die probleem by die ou Potgietersrus (Mogalakwena) Munisipaliteit, waar die mense in die gange sommer op mekaar skiet.

TLU SA Noordstreek se drie swaargewigte oor plaaslike owerheid aangeleenthede, Jan Viljoen, Erika Helm en Dawid Maree het ook die streek verteenwoordig by ‘n nasionale werkswinkel oor munisipale bywette. Ons is bevoorreg om drie sulke kundiges binne die streek te kan hê. Ons beplan vir volgende jaar ‘n plaaslike owerheid seminaar om ander DLU’s ook so te bemagtig om hulle plaaslike owerheid sake onder beheer te bring.

Watersake: Die inisiatief wat TLU SA Noordstreek ‘n paar jaar terug begin het wat tot die dispuut met die departement gelei het, is weer in Maart 2015 met die dept. herbevestig. Ons vertrou dat ons volgende jaar die water-kwessie tot ‘n punt kan druk waar waterwese nou aandag aan ons probleem sal skenk.

Paaie: Paaie bly ‘n kwessie. Geld raak minder en kundigheid bestaan nie meer nie. Paaie het ‘n toestand bereik waar senior werknemers van Dept. Openbare Werke erken dat sommige paaie verby die punt van instandhouding verval het. Ons kon vanjaar weer daarin slaag om ‘n kommunikasiekanaal oop te maak tussen TLU SA Noordstreek strukture en die dept. tot op koste-sentrum vlak.

Landbou omstandighede: Oor die voortslepende droogte en hittegolf toestande kan mens nie veel sê nie. Ons was geteister met beurtkrag, insetkoste wat by die dag styg en markpryse, vir veral groente en rooivleis, bly ‘n bekommernis. Diesel pryse is op en af. Ons het veral op ‘n stadium gesukkel om ons BTW terugbetalings betyds te kry. Nou bestaan daar weer ‘n diesel rabat terugbetalingsprobleem. Ernstige brande het voorgekom, party weens ‘n natuurlike aard en ander uit moedswilligheid en arbeid onrus.

Algemeen: TLU SA se nasionale kongres was goed deur Noordstreek afgevaardigdes bygewoon en het ons ook met verskeie trofeë daar weggestap. Baie geluk weereens aan Theresa Fourie (Koedoesrand DLU), Renita Prinsloo (Potgietersrus DLU ), Floris Booysen (Crecy Boerevereniging), Gertrien Viviers (Levubu Boerevereniging – 2de Prys Jongboer kompetisie 2015) en Diederick Brits (Lehau Boerevereniging – 3de Prys Jongboer kompetisie).

Verskeie DLU’s en BV’s het ook bygedra tot die kontrak koste van dr. Jan Du Plessis wat TLU SA bystaan met ons strategiese herposisionering. Ons dank ook aan hulle. TLU Sa Noordstreek het vanjaar meer as 20 nuwe lede gewerf waarvan Northam BV en Dendron BV spesiaal vermeld moet word. Ek moet ook noem dat die inisiatief wat ons president, Louis Meintjes, geneem het met sy ope briewe aan die sekretaris generaal van die ANC, boere, verbruikers en onlangs aan die parlement, het baie gedoen om TLU SA weer as dinamiese vooruitstrewende landbou organisasie te posisioneer.

Baie geluk en sterkte met die van u wat vir die volgende termyn reeds in u ampte verkies is. Ek wil elke TLU SA Noordstreek-lid bedank vir sy bydrae die afgelope jaar, elke poging word waardeer. Al ons DLU, BU en BV sekretaresses wat die dag tot dag bestuur en administrasie so goed laat verloop, ons waardeer die onbaatsugtige taak wat julle verrig. My opregte wens vir 2016 is ‘n ekonomiese en volhoubare ideologiese vrye landbou beleid vir ons land, waar elke boer met die nodige ondersteuning volhoubaar kan boer en voedsel produseer vir almal in ons land, tot eer van ons Skepper.

Mag al ons lede, insetverskaffers, vriende en amptenare wat betrokke is, of saamwerk in ons strukture, almal ‘n vredevolle Feesseisoen en ‘n vreedsame Christusfees ervaar en my gebed is dat u dit in veiligheid en vrede sal beleef.

TLU SA Noord Streekkantoor sluit Vrydag, 11 Desember en open weer op 4 Januarie, maar Drickus Botha, streekbestuurder, kan gekontak word by 082 774 9287 vir enige navrae of stuur ‘n e-pos na rickusb@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button