Kerskoekies sorg vir ekstra inkomste
Hierdie is die sewende agtereen-volgende jaar wat sy die koekies verkoop vertel Sue Wahl.
POLOKWANE – Wat vir Sue Wahl jare terug eers ‘n kosblikbederf vir haar pa was, het later gegroei tot ‘n projek om die gemeenskap te help.
Sue vertel hulle het arm in Mokopane grootgeword en sy het altyd koekies gebak om in haar pa se kosblik werk toe te sit.
“Daar was ‘n oom wat saam met hom gewerk het wat later van tyd die koekies begin koop het. Só het die ‘besigheid’, as jy dit so kan noem, begin. My pa het vir my gesê ek moet 20 blikke koekies bak en dit is vinnig verkoop. Ek het toe besluit om ‘n tiende van die wins aan ‘n liefdadigheidsinstansie te skenk om hulle te help,” vertel Sue.
Hierdie is die sewende agtereen-volgende jaar wat sy die koekies verkoop. Sy vertel sy het “pensioenaris-tannies” wat bak om ‘n ekstra inkomste te verdien. In 2010 het sy 112 blikke koekies verkoop en ‘n gedeelte van die wins aan ‘n ouetehuis geskenk.
Sue besluit toe om op digitale media te begin adverteer en in 2014 verkoop sy 350 blikke. “Ek wil hierdie jaar graag 500 blikke verkoop. Na my pa se dood in 2013 wou ek alles opgee, maar my familie, vriende en kliënte het my aangemoedig en my herinner aan die verskil wat ek in baie mense se lewens maak. Daarna het ek besluit om al my verkope aan my pa op te dra.”
Sy vertel dat hulle die koekies slegs bak en verkoop tussen einde November en 20 Desember. Die koekies word verpak in 1,6-liter gekleurde emmers en elke emmer kry ook ‘n Minion-yskasmagneet saam.
“Ek het besluit om hierdie jaar R5 van elke emmer wat ek verkoop aan die Polokwane Nasorgsentrum te skenk. Daar is verskillende geure koekies om van te kies en jy kan self kies waarmee ons jou blik moet volmaak. Daar is gemmer-, sjokolade-, vla-, kondensmelk-, hawermout-, koffiekoekies en konfytskywe. Ons lewer ook bestellings af.”
Sue vra die gemeenskap se hulp in die projek sodat daar soveel as moontlik geld aan die Polokwane Nasorgsentrum geskenk kan word.
Mense kan ‘n SMS of Whatsapp stuur na 084 204 4441 om bestellings te plaas.




