Editor's noteLocal NewsNews

Deur God se genade is ons al 53 jaar saam

Dié egpaar is George and Bella Markgraaff, wat Vrydag hul 53ste huweliksherdenking vier.

POLOKWANE – Hul liefde is nog so soet soos die eerste keer toe hulle mekaar ontmoet het 56 jaar gelede.

Dié egpaar is George and Bella Markgraaff, wat Vrydag hul 53ste huweliksherdenking vier.

“Dit was nie altyd maanskyn en rose nie, want nes enige ander getroude paartjie het ons op- en afdae gehad. Deur gebed en God se genade is ons nog saam na al die jare. Ek sien nie my lewe sonder George nie, hy is my beste vriend en ons doen alles saam,” sê Bella.

Volgens Bella het George haar in die N.G. Kerk in Hanover in die Noord-Kaap agtervolg. “Ons het in die katkisasieklas ontmoet. Elke Donderdagaand, na biduur het ons klas gehad in die konsistorie. Een aand tydens klas, voel ek een trap teen my been, maar as ek omkyk kon ek nie sien wie dit is nie. So het dit gegaan vir ‘n paar keer tot ek hom betrap het. Ons het vir drie jaar uitgegaan voor ons getrou het,” vertel Bella.

George sê hy onthou die dag toe hulle getrou het nog soos gister.

“Dit was ‘n klein troue gewees, net familie en vriende. Na die troue het ek my bruid gelift op my maroen fiets en ons het deur die strate gery. “Nes enige ander paartjie het ons afdraandes en opdraandes gehad, maar ons het vasgebyt. Van die begin was daar warmte in ons verhouding, en die liefde het ons bymekaar gehou,” sê George.

In hul huwelik het George en Bella vier kinders in die lewe gebring, twee seuns en twee dogters. ‘n Paar jaar gelede is een van hulle seuns oorlede. Die paartjie is ook die trotse grootouers van 11 kleinkinders en een agterkleinkind.

“Familie is vir ons baie belangrik, en ons is onlangs geseën met ‘n agterkleinkind. Ons geniet elke oomblik wat ons kry om met ons kinders en kleinkinders te spandeer. “Dit is regtig net deur die genade van God dat ons nog lewe om te sien hoe ons kleinkinders en nou agterkleinkind groot word,” stem hul saam.

Gevra wat is die resep tot ‘n suksesvolle huwelik, antwoord hulle: “Ken die Here en nooi Hom in alles wat julle doen en besluit en Hy sal julle verhouding seën. Praat met mekaar, want sonder kommunikasie is ‘n verhouding dood. Probeer om mekaar te verstaan en respekteer mekaar se gevoelens ten alle tye. Wees lief vir mekaar.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button