Egpaar toets uit-, aanhou in TV-reeks
Marzanne Schoeman is 'n oud-inwoner van die stad en sy en haar man, PJ, is een van die drie paartjies wat deurgedring het na die finale ronde.
POLOKWANE – Power Couple is ‘n televisierealiteitsprogram wat handel oor agt paartjies wat meeding in verskeie uitdagings om gekroon te word as die wenners en weg te stap met R1 miljoen prysgeld.
Marzanne Schoeman is ‘n oud-inwoner van die stad en sy en haar man, PJ, is een van die drie paartjies wat deurgedring het na die finale ronde.
Review het die geleentheid gehad om met Marzanne te gesels oor haar jare in Polokwane en die kompetisie.
Marzanne was in Hoërskool Pietersburg (PHS) van 2000 tot 2004 en vertel dat haar tyd in die skool en die stad altyd ‘n baie positiewe deel van haar lewe sal bly.
“Dit was ‘plattelands’ maar ons het steeds fantastiese geleenthede gehad om teen groot skole te kompeteer.
“Op skool was ek baie meer gefokus op sosiale geleenthede en ek was een van Juffrou Zandria Howard se netbalbokkies.
“Akademie het dikwels aan die korter ent getrek,” vertel sy.
Marzanne het PJ by ‘n rugbyklub in die Kaap ontmoet in 2009.
Haar skoonsus het hulle aan mekaar voorgestel, en alhoewel sy eers skepties was het hy baie vinnig haar hart gesteel, en ses jaar later is dié twee steeds ‘n gelukkige egpaar.
Op die dag van die oudisie vir Power Couple het sy en haar man stry gekry en wou sy eers heeltemal onttrek.
“Die grootste motivering was definitief die geld, maar vanaf die eerste paar minute by die oudisies was dit net vriendelik, spelerig en soveel pret!
“Nico Panagio het ons eerste onderhoud met ons gevoer, en ek dink dis daar waar ons besef het ‘o vrek, ons kan dit nou nie meer terugtrek nie’,” vertel sy skertsend.
Marzanne vertel dat sy en PJ met kommunikasie buite die stel ook sukkel en dat hulle daagliks daaraan werk.
Vir Marzanne was die uitdaging waar die vroue verskeie tipes kos moes eet een van die ergste ervarings van die program.
“Ek dink al die vroue was baie sterk daai dag, almal het probeer om die kos af te sluk, maar vir ‘n klomp was die ‘trotter’ net eenvoudig te groot om te sluk.
“Mens kon dit nie in die helfte breek of byt nie.
“Dit was baie rof en ek was maar so ‘n bietjie emosioneel vir n paar dae daarna.”
Die wielomruiluitdaging was weer vir haar maklik omdat sy nog altyd onafhanklik grootgeword het.
“Ek het grootgeword in ‘n huis waar my ouers baie gereis het, en ons was ook lief vir kampeer.
“Omdat ek ‘n daddy’s-girl is, was ek gedurig saam met my pa besig in en om die motors.
“My pa is lief om stories te vertel en lessies vir ‘n mens te leer, so om ‘n wiel om te ruil was nie iets wat ek nog nooit gesien het nie.
“Op die dag het PJ my gedra! Hy het stap vir stap vir my instruksies gegee, ek dink nie ek sou dit so vinnig kon regkry as hy my nie deur die taak gepraat het nie,” vertel sy.
Marzanne vertel dat die deelname aan die program vir haar en PJ baie goed is. “Dis baie voordelig om jou verhouding te meet teen ander verhoudings.
“‘n Mens leer baie van mekaar en hoe die ander paartjies verskillende situasies hanteer.
“Ek dink ‘n gereelde en eerlike reality-check in ‘n mens se verhouding is belangrik.
“Mens moet voortdurend verander en aanpas, en ook met mekaar kommunikeer anders stagneer ‘n mens.”
Marzanne nooi al die kykers uit om die reeks te volg op DStv kanaal 101.



