Bosveld NewsNews

Basiese opvoeding kern vir toekoms

BOSVELDPRAATJIES: Die matriekeksamen is verby en die land se gewese matrikulante het klaarblyklik almal na die kus verkas waar hulle hulself kan oorgee aan sonbrand, drank, ooreet, onbeplande swangerskappe en 'n bekommernis oor komende uitslae.

Die matriekeksamen is verby en die land se gewese matrikulante het klaarblyklik almal na die kus verkas waar hulle hulself kan oorgee aan sonbrand, drank, ooreet, onbeplande swangerskappe en ‘n bekommernis oor komende uitslae.

Alhoewel, as ek kyk na die slaag-vereiste deur die Departement van Onderwys neergelê, is dit nie juis iets om oor gepla te wees nie.

Dit wil my mos lyk dat as jy tot drie kan tel en nie noodwendig in die korrekte volgorde nie, of as jy weet dat om iets van die regering te kry jy eers iets meer moet vernietig en ‘n miljoen rand iets is om na te streef deur diefstal. (Is ek nou te kras?) Is jy slegs dan geregtig op daardie stukkie papier wat beweer jy matriek bygewoon het.

Dit terwyl van die arme nasieners iewers in Kwazulu-Natal hul draaitjies tussen die bosse moet gaan loop omdat die skool waar gemerk word, nie oor lopende water beskik nie. Ek wonder mos nou, indien daar suursop by die merkery daar sou voorkom, watter stank gaan daardie gedoente afgee?

Intussen is Beter Helfte as voormalige gr. 1 juffrou fluks besig om ons kleinseun, Jan Albert, te leer van die alfabet, van skryf en van tel sonder om sy vingers en tone te gebruik. Wanneer hy oor bietjie meer as ‘n maand vir sy eerste skooljaar moet inklok. Hy is beslis al verby die eerste vereiste. So ‘n jaar of drie gelede het ek toe op my belëe ouderdom weer ‘n stukkie matriek deurgemaak. Kom ons huishulp die Donderdag midde-in die matriekeksamen en vra of ek haar dogter die Saterdag met haar Afrikaanse brief vir die eksamen sal help. Natuurlik willig ek dadelik in.

Eerstens omdat die huishulp ‘n voorslag is en tweedens omdat haar dogter wat Afrikaans as vak neem, alle hulp verdien. Saterdag sit ons tweetjies langs mekaar aan my eetkamertafel en ek help haar om ‘n mooi brief in Afrikaans aanmekaar te slaan, so op graad 6 vlak want haar Afrikaans kort beslis nog bietjie skaafwerk. Klaar daarmee, bedank sy my en noem dat sy dit nou Maandag kan gaan ingee. Wil ek toe mos weet nou hoe so? Nee, kom die antwoord, die eksamen was al die Donderdag, maar die onderwyser het die vraestel saamgegee huistoe met die opdrag om die brief Maandag te bring vir inhandiging en aanstuur.

Haar Afrikaans was beslis op ‘n meer beskaafde vlak as dit wat ek deesdae op Facebook waarneem. F.W. de Klerk is die afgelope week weer behoorlik deur plaaslike mense sleggesê omdat hy dit durf waag het om sy negatiewe sentiment oor die rigting waarheen die land op pad is, uit te spreek. Sowat van haat en wrewel teenoor ‘n spesifieke persoon het ek lanklaas teengekom. Lyk my dis omtrent net die 1896 runderpes wat nie sy skuld is nie. Wat egter walg is dat dieselfde mense wat hom so kru kasty, net daarna die soetsappigste prentjies en storietjies oor Kersfees en die Liewe Heer op Facebook versprei. Ek wil nie eers weet hoe hulle hul eie gewaande Christenskap self uitleef nie. Onthou tog mense, Facebook is openbare domein. Iets wat egter nog erger was, was die foto van die vermeende vragmotor batterydief wat by Olifantshoek sy rieme styfgeloop het. Sy bebloede gesig pronk lewensgroot op Facebook, met honderde mense (ook uit Mokopane) wat kraai van plesier en hulself daarin verlekker dat sy gesig so gepaneelklop is. Die skokkendste was egter die bloeddorstige, rassistiese, kru en ja ook vloekende kommentare daarby,met meer as die helfte daarvan afkomstig van mense met vroulike name. Ek ys oor die pad wat daardie mense se kinders eendag gaan inslaan want taal en ingesteldheid word tog aan moedersknie geleer en bly jou die res van jou lewe by. Genadiglik vind ek toe die teendeel tot hierdie barbaarsheid in ‘n e-pos wat deur ‘n Engelse joernalis oor Orania geskryf is. Die berig was so positief dat sy eie redakteur geweier het om dit te plaas. Wat opgeval het, was sy opmerking dat hy tydens verskeie dae in die gemeenskap nie ‘n sweempie van rassisme, haatspraak of kru taal teengekom het nie.

Lyk my van Potties se mense kan by Orania gaan leer, maar geoordeel aan die teenstelling tussen hul Facebook kommentare en Orania se realiteit, is daar beslis ‘n moontlikheid dat hulle daar weggewys sou word.

Intussen, hou julle oë oop, jul handsakke stewig onder die arm vasgeklem, julle veiligheidshekke en motordeure gesluit en mag die gesëendheid van hierdie feesgety vir elke leser daarin lê dat misdaad wye draaie om julle gooi, onderwyl ‘n giggelende Staatspresident in sy vuurpoel in KZN afkoel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button