POLOKWANE – Met die vrystelling van die gr. 12 uitslae van 2015 het die leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) by die skool bymekaargekom om saam in hul uitslae te deel.
Leerders het van die geleentheid gebruik gemaak om van hul vriende te groet en om vir oulaas die personeel wat hulle deur die jaar ondersteun het te bedank.
Vriende het in groepies gesit en gesels oor hul opgewondenheid en soms vrees vir wat nou vir hulle voorlê.
PHS spog met ‘n 100% slaagsyfer.

Sandra Ramothopo het een onderskeiding in lewensoriëntring behaal en sê die meeste van haar punte was soos sy dit verwag het, maar daar was ook ‘n paar verrassings wat haar baie gelukkig gemaak het.
“Ek gaan verder studeer en wil graag my BA-graad in bemarking en kommunikasie kry. Dis belangrik om dadelik aan te gaan met leer en om nie eers te rus nie. Ek het hard gewerk in voorbereiding vir die eksamens laasjaar en wil die harde werk voortsit,” vertel sy.

Mariska de Beer sê sy het glad nie geweet wat om te verwag met die uitslae nie en dat sy net baie dankbaar is haar harde werk is beloon. Sy skop ook haar 2016 af met studies in skoonheid en hotelbestuur.
“Daar is nie woorde om te beskryf hoeveel gemengde gevoelens ek het nie. Die hele lewe lê voor my en ek kan nie wag om elke oomblik daarvan te geniet nie,” glimlag sy.
Jemma Nel vertel sy gaan dadelik haar studies begin omdat sy nie kan wag om regte te gaan studeer nie. “Skool is nou iets van die verlede en die nuwe hoofstuk begin. Dit voel soos ‘n nuwe avontuur waarmee ek wegspring en dis baie opwindend.”
Chantelle Vorster sê sy en haar ouers is baie opgewonde om te sien haar harde werk en toewyding het goeie vrugte gewerp.
Sy gaan nie dadelik verder studeer nie maar gaan begin werk en is sterk oppad om au pair werk in New Zealand te gaan doen. “Ek wil graag sien hoe mense in ander lande lewe en kan nie wag om die kennis wat ek hier opgedoen het daar toe te pas nie,” sê sy opgewonde.

Johan du Preez en Hardus Diedriks sê daar is nou nie meer kans om terug te draai nie. Johan het ‘n onderskeiding in wiskunde behaal en gaan dit gebruik om landboustudies in Stellenbosch saam met sy vriend Hardus aan te pak.
“Harde werk is die sleutel tot sukses en ons wil so gou moontlik met ons studies begin en daarna die lewe geniet in ‘n beroep wat ons baie na aan die hart lê,” is hulle eens.
Herman Joubert gaan nie op hom laat wag nie en gaan na Australië waar hy graag wil gaan boer. “Daar is niks meer wat my terughou nie. Ek kan al my drome najaag en is dankbaar vir die geleenthede wat PHS my gebied het,” vertel hy.




