Local NewsNewsSchools

Stetoskoop is in haar toekoms

Claudi van Niekerk is een van die blinkste juwele uit die Curro Heuwelkruin skatkis.

POLOKWANE – Claudi van Niekerk is een van die blinkste juwele uit die Curro Heuwelkruin skatkis.

Sy het deelgeneem aan bykans als wat die skool gebied het, van sport en akademie tot kultuur.

Sy het in gr. 5 by die skool aangesluit en het verlede jaar haar gr. 12 by die skool voltooi.

“Toe ek sewe was het ek gedroom om ‘n lugwaardin op een van die wêreld se grootste vliegtuie te wees. Na ‘n ruk het ek besef ek is nie een van die langste mense nie, en het gehoop om ‘n Amerikaanse honde-hanteerder te word wat diens doen in die buiteland. Hierdie jaar gaan ek BSc. biologiese wetenskappe studeer by die Universiteit van Pretoria met die hoop om ‘n dokter te word.”

Haar gunsteling vakke op skool was biologie en lewensoriëntering (LO). Haar biologie onderwyser, Manie Raath, het die vak ongelooflik interessant en pret gemaak wat ‘n liefde vir die vakgebied by haar aangewakker het.

“Op skool het ek alles gedoen, ek het perd gery, netbal en hokkie gespeel, aan atletiek deelgeneem asook aan ringbal, tennis en swem. Ek het ook deelgeneem aan die Rotary Debat Kompetisie in gr. 11 waar ek ‘n tweede plek verwerf het. ‘n Hoogtepunt in 2013 was toe ek gekies was vir die South African National Equestrian Schools Association (Sanesa) se ruiterspringspan wat teen Brasilë deelgeneem het by die Kyalami Equestrian Park. Ek het ook my nasionale klere in ringbal verwerf.”

Claudi was ook ‘n Mnr. en Mej. Heuwelkruin finalis waar sy gemeenskapswerk by die Ngwana Babahuis, Crown Rehabilitation Centre, die Theunis Fichardt Hospitium en die Eeufeeshuis gedoen het. Sy vertel dat sy nie seker is hoe sy haar akademie, sport, kultuur en buitemuurse aktiwiteite alles gebalanseer het nie.

“Ek wou alles doen en op die einde van die dag het ek nie gehuiwer nie, ek het dit net gedoen. Dit het soms moeilik geraak, maar jy leer om alles te hanteer en steeds goeie punte te kry, meeste van die tyd,” lag sy.

Claudi voel sport is baie belangrik aangesien dit kos vir jou brein is asook vir jou liggaam.

“Ek het nie regtig ‘n rolmodel nie, my ouers het my baie aangemoedig om die beste te wees wat ek kan wees en dit spoor my steeds aan. Ek wil ander lei en ‘n goeie voorbeeld wees. Ek het ‘n baie goeie ondersteuningsisteem. My ma was my taxi, motiveerder, bestuurder en fisioterapeut. Sy is my alles. Wanneer dinge moeilik gegaan het was sy daar met ‘n energiedrankie en sjokolade. My pa was altyd langs die sportveld met ‘n koelboks en snaaksighede ter ondersteuning. Soos wanneer die teenstanders bietjie groter was sou hy sê: ‘Sus, gewig en lengte tel net in ‘n slaghuis’. My vriende was ook altyd daar om my te ondersteun, veral Lara van Niekerk wanneer dit by wiskunde kom.”

In haar eie woorde wil sy na vyf jaar bekend wees, maar realisties beplan sy om haar studies te voltooi, in haar eie huis te bly, ‘n deftige motor te besit, verlief te wees en hopelik al ‘n stetoskoop om haar nek te dra.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button