POLOKWANE – Met gespanne gesigte en stram glimlagte het die 2015 gr.12 leerders Woensdag by Hoër Tegniese Skool (HTS) Tom Naudé opgedaag.
In Engels sou hulle sê dit is “D-Day”. Dié dag waarop hulle hoor of hul skoolloopbaan ‘n sukses was en of hulle harder moes probeer het.
Reeds van vroeg af het die leerders tougestaan om hul gr.12 sertifikate te ontvang met woorde soos: “Dankie tog, ek het dit gemaak”, en: “Ek het ‘n onderskeiding”, is hulle weer weg, oë stip op die sertifikaat in hul hande.
“Ons as skool is baie tevrede met die uitslae. Ons slaagsyfer in 2014 was 84%. In 2015 is dit op na 91%. Die leerders het oor die algemeen beter gevaar was wat ons verwag het,” vertel Piet Holtzhauzen, waarnemende hoof.
“Ons het ‘n paar projekte aan die gang gesit soos die You Tube-kanaal en ekstra klasse.
Al ons sport begin eers na 15:00 in die middag, so die ekstra klasse is tot 15:00. Hierdie jaar gaan ons ook verpligte langer skoolure hê vir druipelinge. Dit sal vir al die grade wees.”
Holtzhauzen vertel ook dat hulle winterskool en lenteskool aanbied en dat daar ook eksterne hulp gaan wees.
“Ons het ‘n paar leerders wat getoets is vir spesiale onderrig wat onder ons slaagsyfer val. Ouervergaderings is baie belangrik Ons bied ook binne elke vak studiemetodes aan aangesien jy vir elke vak anders studeer.”
Holtzhauzen vertel dat hulle baie opgewonde is oor die toekoms, veral nou dat die nuwe kurrikulum begin.
Die top presteerder van HTS Tom Naudé was Olivia Mothiba met vier onderskeidings, dan was dit Anja Strydom met twee onderskeidings en Johan de Waal met drie onderskeidings.






